Daar word gesê: “Dit vat alle soorte om die wêreld te maak” – seker dié dat dit so moeilik is om altyd mense te verstaan.
Weet almal dan nie wat ‘n glimlag en vriendelikheid doen aan iemand in ‘n andersins koue ongenaakbare wêreld, waar niks verniet is, bietjie vir ‘n tiekie en min mense maklik uit hulle pad gaan om die wêreld ‘n beter en gelukkiger plek te maak nie ? Of kan dit wees dat elkeen te besig is met sy eie oorlewingstryd ?
Om elke hoek loop jy jou vas in iemand wat onnodig kwaai of sommer net moeilik of onredelik is.
Kompleet asof hulle nie iemand anders iets/sukses gun nie en daarby hulself die reg toe-eien om jou dag om te krap.
Is dit jaloesie, is dit ‘n vorm van manupulasie, is dit ‘n vergrote ego, vir selfbelang, net plein moeilik…..of is dit gedryf deur onsekerheid in ‘n poging om raakgesien te word ? Wie sal weet ?
Of jy wil of nie, jy word onwetend ingetrek en tot kompetisie uitgedaag, tot omdraai amper onmoontlik raak.
Dit is wanneer ek aan Phillip, ‘n vorige werkgewer dink – hy het altyd gesê: “Kindjie vergeet die ander ..… daar is genoeg vir almal daar buite”.
Jy het nie nodig om gemeen, skelm of agterbaks te wees in ‘n poging om iets te bereik nie – nee, al wat jy moet doen is NOG HARDER WERK en GLO in wat jy doen “.
En dis hoe ek hom onthou, geliefd en gerespekteer deur almal – sy werkers EN sy kwaaiste opponente. Harde werk, en net dit, het hom sukses laat smaak.
‘n Man wat ‘n wonderlike voorbeeld en inspirasie vir ander was, ‘n man wat nie omgegee het om sy eie hande vuil te maak nie, ‘n baie welgestelde, maar tog so ‘n nederige man.
Vir almal wat poog om die wêreld ‘n beter en gelukkiger plek vir ander om hulle te maak … ek wil glo, julle is ons “aardse engele”.
Doen so voort.
Julie Retief – (red)