Entrepreneurs – ware entrepreneurs – hou van die uitdaging om ‘n nuwe projek aan te pak, hou van die risiko’s wat geloop word wanneer ‘n nuwe onderneming begin word, en raak soms verveeld wanneer ‘n besigheid vlot loop. En verloor dan gaandeweg belangstelling in die onderneming.
Die klassieke entrepreneur weet wat hy – (of sy!) – wil doen, en wanneer die doelwit bereik is, word die volgende uitdaging opgesoek. Hierdie spesie van besigheidspersoon begin dikwels ‘n nuwe onderneming elke drie tot vyf jaar, en beweeg dan aan na die volgende uitdaging. Na regte behoort elke sakeman aan die einde van die finansiële jaar sy posisie met betrekking tot die onderneming in heroorweging te neem, en dan medium termyn beplanning te doen oor die toekoms van die besigheid.
Dit is noodsaaklik vir elke entrepreneur om doelwitte te hê vir die onderneming. Hierdie doelwitte sluit in omset, wins, aantal takke, aantal personeel – in der waarheid kan enige kombinasie van ‘n hele aantal doelwitte gestel word. Die belangrikste is dat daar wel doelwitte sal wees.
Een van die belangrikste doelwitte wat baie dikwels uitgelaat word, is die einde van die verhouding met die onderneming. Geen eienaar van ‘n besigheid gaan vir ewig aan ‘n besigheid verbind bly nie, en planne moet vooraf beraam word om te verseker dat die “skeiding” so suksesvol as moontlik hanteer word.
Daar is drie basiese variasies van die beplande einde van ‘n onderneming:
1. Verkoop die onderneming as ‘n lopende saak
Om die onderneming as lopende saak te verkoop, is op hoë uitsondering na, die mees winsgewende manier om van die besigheid te skei.
Hierdie proses vereis dat die onderneming verkoop moet word aan iemand wat dit winsgewend sal laat voortbestaan. Ten einde die beste moontlike prys te verkry, moet die onderneming kan bewys dat dit winsgewend is oor ‘n lang periode, en dat die toekoms rooskleurig is.
Hierdie bewyse word altyd in die finansiële state gekry – wat ‘n baie goeie rede is om die finansies altyd goed te boekstaaf, selfs al sou wetgewing dit nie vereis nie. Die beste pryse word ook gerealiseer wanneer die verkoop nie plaasvind onder bedreiging van kompetisie nie, soos byvoorbeeld wanneer die plaaslike kafee op die hoek bedreig word deur ‘n supermark wat langsaan gaan oopmaak. Juis is dit belangrik dat die voorsienbare toekoms sonder bedreigings moet wees.
Die belangrikste element hier is dat die entrepreneur nie sal wag totdat die besigheid op die sterfbed lê voordat hy besluit om te verkoop nie – dan is dit te laat. Niemand sal ‘n dooie trekos koop vir ‘n redelike prys nie; net springlewendige diere haal goeie pryse!
2. Lys die onderneming as ‘n openbare maatskappy
Hierdie opsie is meesal geskik vir ondernemings wat baie groeipotensiaal het, en wat ten minste in die medium termyn dieselfde groeipotensiaal kan handhaaf nadat dit gelys is.
Die betrokkenheid van die entrepreneur word hier merendeels vereis omdat sy/haar voortgesette betrokkenheid deur potensiële aandeelhouers gesien word as ‘n soort waarborg dat die geprojekteerde winste wel sal realiseer. Die skeiding tussen entrepreneur en onderneming is gevolglik in hierdie geval nie totaal en ”skoon” nie – die verbintenis bly ten minste in die medium termyn voortbestaan.
3. Sluit die onderneming en likwideer al die bates
Die derde moontlike beplande skeiding tussen entrepreneur en onderneming kan eweneens winsgewend wees. Nadat die entrepreneur die onderneming gestig het, en vir ‘n tydperk die winste geniet het, kan die tasbare bates van die onderneming op die mark gesit word. Hierdie proses, wat in Engels as “asset stripping” bekend staan, behels dat al die bates van die onderneming, insluitend eiendom en toerusting, verkoop word en dat die opbrengs dan aan die entrepreneur as eienaar/aandeelhouer toegedeel sal word.
Die belasting implikasies van hierdie proses sal egter deeglik oorweeg moet word in die beplanning van so ‘n einde aan die onderneming, en die hulp van kenners behoort ingeroep te word.
‘n Laaste en verwante manier van “skeiding” wat nie heeltemal die einde van die verhouding met die onderneming beteken nie, is om ‘n gedeelte of aandeel van die onderneming te verkoop aan ‘n vennoot of aandeelhouer. So ‘n transaksie kan kontant beskikbaar stel vir die individu om ‘n nuwe inisiatief te begin; dit is egter ‘n redelik komplekse proses wat ‘n artikel op sy eie sal beslaan, en iewers in die toekoms hanteer kan word.
Die belangrikste van die “harvesting” proses van ‘n onderneming is dat dit vooraf beplan moet word, en as ‘n doelwit gestel moet word. Die entrepreneur kan nie eenvoudig een oggend wakker word en besluit nou gaan ek van die besigheid skei nie – dit proses vereis goeie vooraf beplanning, gekoppel aan vooraf bepaalde doelwitte wat bereik word, en ‘n berekende herinvestering van die opbrengste van die “harvesting” in ‘n volgende onderneming.
Gesels gerus met Johan Cronjé of Francois le Roux van Garden Route Business Services by francois@grbs.co.za oor alle aspekte van die “harvesting” soos hierbo genoem.