Jacques Valjean
Op Tietiesbaai het dit instelling geword: Nadat kamp opgeslaan is, word daar gesoek na ‘n droë seebamboes wat dan vinnig-vinnig aangepas word om ‘n trompet te vorm. En as die “Tietiesbaai Horing” klaar is, kon die klein Prinses maar gaan rondloop – in die baai kyk almal na almal se kinders, en van sy 6, 7 oud was, is sy toegelaat om te gaan waar sy wil, met enkele waarskuwings: Nie naby die rotse nie, en nie in die water nie.
Die “Horing” is soos ‘n trompet geblaas – en omdat die klank baie ver getrek het, is dit gebruik om die Prinses te roep as dit etenstyd is of storttyd of watter tyd ook al wat haar teenwoordigheid vereis het. En altyd was sy baie vinnig terug by die karavaan, want iemand het haar gesê “Pappa roep”, of sy het self gehoor…. En die klank soos die van ‘n Shofar is deur almal geassosieer met Prinsessie se Pa wat haar roep.
Die Prinses is al lank oorsee – ‘n jaar lank al studeer sy daar, en Pa se hart verlang maar sterk. Prinses is ook vermoedelik baie besig, want die eposse is skaars en WhatsApps nog skaarser…. Maar, Pa weet mos hy moes hierop voorberei gewees het, want Prinses word groot en moet haar eie grootmenslewe aanpak. Steeds, ‘n Pa en Dogter…
Anderdag stap ek weer van die Mond af Kleinbrak se kant toe. Al optel-optel aan die stukke plastiek wat oweral gestrooi is. Bottels, sakkies, wat nog. En skielik, hier onder ‘n klip, ‘n kurkdroë stuk seebamboes, bolvormige kop en al! En die herinneringe storm terug…
Ek kap die bol stukkend teen ‘n rots, en skuur die dun kant se opening glad teen dieselfde rots. Probeer ‘n trompetgeluid uitkry en jip! Dit werk!
Terugstap mond se kant toe, blaas ek kort-kort op die horing soos ‘n kind wat ‘n nuwe speelding ontdek het. En elke noot bring sy eie herinnering:
Visskoonmaak – Prinses daar in die hoekie van die baai, TE lank besig, en ek gaan kyk hoekom vat dit so lank; hier staan sy met vis derms in die hand, en vra ewe onskuldig: “Pappa, watter is die hart?”
Hengel – sy sien hoe oom Emile ‘n hottentotjie uittrek, keelaf sny om leeg te bloei, en sy kyk ewe onskuldig op: “Pappa, ek wil die volgende een sny!” Maak so…
Sy wil haar klein fietsie ry – NOU – maar die kant wielietjies moet eers aankom. Pa is moeg kamp opgeslaan en sê nee, more. Maar huh-uh, Prinses wil NOU. Ek bied aan om haar vas te hou terwyl sy ry. Piekfyn – sy ry lekker rond, ek met die saal stewig in die hand, op ‘n drafstap om by te bly. Naderhand sê sy “moenie los nie hoor!” – maar Pa is mos maar dwars en los later en Prinses ry tiene meters op haar eie totdat sy omkyk, sien ek is 30 meter agter haar, en kadoef! slaat sy neer. En binne 10 minute ry sy op haar eie….
Prentjies kom op van die Prinses met ‘n kreefstert in die hand, bekkie blink van die botter; later jare sou sy self voor die gasstoof staan en swartmossels met room en witwyn maak…
Naby die Mond kom ‘n klein dogtertjie ander gestap, kyk met verwondering na die oom wat so raas met ‘n stuk bamboes. Ek wink haar nog nader – sekerlik is sy so Prinses se ouderdom toe die geleer fietsry het – en gee haar die bamboes in die hand. Verduidelik mooi hoe sy moet proes in die klein kantjie om ‘n geluid uit te kry. Watwou, tweede probeerslag kom sy reg en stap later raas-raas na haar ousus toe…
Lee-Ann is haar naam. En haar ousus is Brenda. En lekker raas hulle twee tussen mekaar met dit horing…
Met die wegstap besef ek Prinses se dae wat sy aan haar Pa verkleef was, is verby. Want soos sy leer fietsry het, het sy die lewe ook leer hanteer sonder my steun. Tog, as ek miskien net op die horing kon blaas, en iemand hoor dit, en sê vir haar: Prinsessie, Pappa verlang……. •