Die 15de S.A Nasionale Antarktiese
Ekspidisie na Antarktika ( Deel 5 )
Sneeu akkumulasie – veroorsaak deur die obstruksie wat die tweeman tentjies
oor twee dae teen die wind gebied het. BAIE graafwerk lê alweer vir ons voor die deur
Met die laaste aflewering het ek beskryf hoe Wimpie my uit die skeur uitgetrek het. …..
Wat ‘n verligting om weer terra firma onder my voete te voel!
Eers later in my lewe besef ek met dankbaarheid hoeveel dinge daardie dag in my guns verloop het. As daar nie ‘n tweede brug was nie … as ek nie die yspik by my gehad het nie … as die skeur wyer as my yspik was … as die yspik nie stewig genoeg in die wande van die skeur geanker kon word nie … en as Wimpie en sy twee makkers nie binne hoorafstand van my was nie …? Ek glo my Beskermengel het daardie dag oortyd gewerk!
Oor die volgende twee en ‘n half dae werk ons onverpoos daaraan om die CAT te herwin, terwyl gure weer ons telkens noop om skuiling te gaan soek. Dit is ‘n langdurige proses wat baie graafwerk en inspanning verg.
Een van die eerste probleme is dat daar geen natuurlike ankerpunte op die yslandskap is waaraan ‘n block en tackle vasgemaak kan word nie. Gevolglik moet diep slote in die ys gegrawe word en dik teerpale word dan op die bodem begrawe (genoem ‘n dead man), waaraan die trek-kabels geheg kan
word. Dit is ‘n gevaarlike operasie waartydens die lading op die kabels telkens oorskry is weens die gewig en posisie van die CAT. As so ‘n kabel onder spanning sou breek, sou dit alles uit die pad vee met die terugslagaksie (whip-lash).
Maandag 25 Februarie 1974. Ons ruim op, grawe toegesneeude voertuie en slees onder die sneeu uit. Ons is almal dankbaar dat die CAT weer reisvaardig is en ons hierdie skeurgebied die volgende oggend vaarwel sal kan roep.
Dinsdag 26 Februarie 1974. Ons vorder teen die aand 26 km, maar sal weer môre moet terug om die orige drie slees te gaan haal. Radiokommunikasie bly steeds onmoontlik en ons kan nie briewe stuur of ontvang nie.
Die totale gebrek aan privaatheid is sekerlik die moeilikste aanpassing waaraan die veldspan gewoond moet raak. Ons was toegelaat om 150 woorde per teleks per week te stuur en te ontvang. Elke woord word sorgvuldig oorweeg wanneer ‘n brief vooraf uitgeskryf word. Dan lê die briewe en wag (vir dae en selfs weke) totdat die gehalte van radiokommunikasie aanvaarbaar is en duidelik is. Een vir een sal elke spanlid dan sy brief stadig oor die radio uitlees en selfs uitspel (wanneer kommunikasie onduidelik is) terwyl die ander spanlede, ook in die caboose, hulle beurt sit en afwag. By die hoofbasis sit en tik Arrie of Lammie ons briewe op die teleksmasjiene vir versending. Netso word briewe weer oor die radio ontvang, terwyl elkeen sy brief afskryf, om dit later oor en oor te kan lees. Almal is natuurlik altyd op hoogte van sake met elke ander lid se liefdesake. Later is ons so gemaklik met mekaar dat die inhoud van briewe onderling bespreek word en daar allerlei afleidings tussen die lyne gelees word met die ywerige hulp van mede-spanlede.
( vervolg…. )