VANDALISME KOS MUNISIPALITEIT MILJOENE

 

 

ase

Vandalisme kos die Munisipaliteit en dus die dorp se belastingbetalers en diensteverbruikers meer as ‘n miljoen rand jaarliks. Die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, doen gevolglik ‘n beroep op die publiek om ook hul oë en ore oop te hou, en die Munisipaliteit te help om die skuldiges aan die pen te laat ry.

In van die jongste voorvalle is padverkeerstekens in Kaapweg voor die Laerskool Park tot op die grond omgebuig, terwyl potplante en vullishouers in Marshstraat omgegooi is. Die pale van die verkeerstekens breek dikwels af as daar gepoog word om dit terug te buig, en dit kos ongeveer R800 elk om te vervang.

Elektriese substasies, munisipale regulasieborde, verkeerstekens, geboue en ander fasiliteite word ook dikwels met graffiti besmeer, terwyl gemeenskapsale gereeld deur vandale beskadig word.

“Ons wil ‘n ernstige beroep op die gemeenskap doen om die Munisipaliteit te help om die skuldiges aan te keer deur hulle by Munisipaliteit of die Polisie te rapporteer as hulle voorvalle van vandalisme, hoe gering ook al, waarneem of weet wie die skuldiges is,” het Raadsdame Ferreira gesê.

“Vandalisme is nie net onsinnig en krimineel nie, maar veroorsaak ook dat geld en energie wat op beter dienslewering bestee kon word, nou bestee moet word om die skade te herstel.

“Dit is ongelukkig moeilik om die kwaaddoeners aan te keer omdat hul aktiwiteite dikwels ook in die nag plaas vind, of mense wat dit sien gebeur dit nie rapporteer of wil rapporteer nie uit vrees vir vergelding. Ons wil nietemin ‘n beroep op die publiek doen om ons te help om hierdie probleem met wortel en te tak uit te roei deur ook as die oë en ore van die Munisipaliteit op te tree,” het die Burgemeester gesê.

Die publiek kan die Munisipaliteit by telefoon (044) 606-5210 kontak met inligting oor vandalisme.

ase ase

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *