BEHUISINGSPLAN MAAK VOORSIENING VIR AGTERPLAASBEWONERS

Die Mosselbaaise Munisipaliteit se behuisingsplan maak voorsiening vir die bou van 1 312 huise in Uitbreiding 13, wat hoofsaaklik aan agterplaasbewoners in die D’Almeida-gebied, wie se name op die munisipale waglys verskyn, toegeken sal word.

Dit blyk uit die Munisipaliteit se opgedateerde behuisingsplan oor tien jaar wat in April 2015 deur die Raad goedgekeur is.

Volgens die plan word die behuisingprojek, wat ook middelinkomstebehuising insluit, vir die 2016/2017 boekjaar beplan in Uitbreiding 13 teenaan Louis Fourieweg in die Louis Fouriewegkorridorgebied. Die huise sal toegeken word aan mense op die bestaande behuisingswaglys wat deur die Munisipaliteit bygehou word.

Hierdie eenhede is bykomend tot die behuisingsprojekte waarmee die Munisipaliteit reeds besig is of sal begin, en waar sekere projekte vir voltooiing in die 2015/2016 finansiƫle jaar geskeduleer is. Die huidige projekte sluit 154 wooneenhede in Herbertsdale, 152 eenhede in Sonskynvallei, waarheen die Powertown-inwoners verskuif sal word, en 1 561 eenhede in die Asazani/Izinyoka-projek in.

Die behuisingsplan maak ook voorsiening vir die aanvang van ‘n projek in Sonskynvallei in 2016/2017 vir ongeveer 696 eenhede.
Onderhewig daaraan dat die nodige fondse van die Nasionale Departement van Menslike Nedersetting deur middel van die Provinsiale Departement van Menslike Nedersetting bekom word, maak die plan voorsiening vir altesame 10 611 wooneenhede tot aan die einde van die 2019/2020-boekjaar teen ‘n geraamde koste van R541,4 miljoen. Die eenhede sluit voltooide wonings asook gedienste erwe in.

Die projekte is onderhewig daaraan dat die nodige befondsing van die Staat bekom word aangesien munisipaliteite deur wetgewing verbied word om interne fondse vir die bou van topstrukture aan te wend.

Die behuisingsplan word gereeld hersien, en opgedateer na gelang van veranderende omstandighede.

ADS 2

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *