Broodknippies vir Rolstoele

broodknippieprojek

‘‘n Projek om 247,5 kg broodverpakkingsknippies in Mosselbaai in te samel, is vandag deur die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, van stapel gestuur. Die knippies sal vir rolstoele vir behoeftige persone ingeruil word.

Die knippies, wat gebruik word om die plastieksakkies waarin brood verkoop word mee toe te maak, is van hoëdigtheidspolistireen gemaak. Dit is geskik vir herwinning, en kan weer gebruik word om produkte soos houers vir saailinge, vloerlyste, kroonlyste en klerehangers te vervaardig.

Vir elke 247,5 kg van die knippies wat ingesamel word, word ‘n rolstoel aan ‘n behoeftige persoon geskenk. Intussen het Sasko, Kwikloc en CE Mobility ook betrokke geraak, en skenk elkeen nog ‘n rolstoel vir elke rolstoel wat deur middel van die insamelingsprojekte verkry is.

Raadsdame Ferreira het ‘n beroep op die publiek van Mosselbaai gedoen om die projek te ondersteun. Spesiale houers sal by alle munisipale kassierspunte asook biblioteke geplaas word sodat die publiek hul knippies daar kan gaan ingooi. Sy het gesê die munisipaliteit gaan ook die plaaslike skole by die projek betrek, en sal met besighede onderhandel om van die houers by hul persele te plaas.

Die landswye projek is ongeveer vyf jaar gelede deur me Mary Honeybun van Noordhoek in die Kaap begin, en word nou deur die Polistireenverpakkingsraad van Suid-Afrika gekoördineer. Byna 400 rolstoele is reeds deur middel van die projek aan behoeftige mense geskenk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *