Eendjieloop vir Goue Oues

Goue ouesfoto

Mense in hul goue jare sal op Dinsdag, 26 Mei 2015, die geleentheid by die Eden Goue Spele in Mosselbaai gebied word om nie net hul slag te toon in konvensionele sportnommers soos die 100 meter, 200 meter, 400 meter en 800 meter nie, maar ook in die eendjieloop en ouklereresies.
Die Eden Goue Spele vir mense ouer as sestig jaar sal in die Van Riebeeckstadion plaasvind. Daar word na afloop van die byeenkoms ook ‘n span gekies wat op 1 September 2015 aan die Wes-Kaapse Goue Spele in Kaapstad gaan deelneem. Deelname, vir mans en vroue, sal in die ouderdomsgroepe 60 tot 69 jaar, en bo 70 jaar wees.

Behalwe die eendjieloop, ouklereresies en die genoemde baanitems, sal daar ook aan nommers soos bal skop en aangee, bal-aflos, sokker en doelskiet, jukskeigooi, en rugbybalgooi deelgeneem kan word. Daar sal ook ‘n wasgoedpennetjienommer vir mense in rolstoele wees.

Die Mosselbaaise span, wat uit 57 lede bestaan, is gekies na proewe waaraan 124 mense van Ruiterbos, Herbertsdale, Buisplaas, Mosselbaai, Benevolent Park en die Itembalethu en Ingelishwe bejaardegroepe deelgeneem het.
Die verskillende dorpe in die Eden munisipale gebied stuur elkeen ‘n span van ongeveer dertig deelnemers na die spele in Mosselbaai. Altesaam 250 persone gaan deelneem.
Die publiek word ook uitgenooi om die Spele by te woon.

Navrae in hierdie verband kan aan Alma Kritzinger by die Mosselbaaise Munisipaliteit by telefoon (044) 606-5251 of Jean Neethling by 082 776 9510 gerig word.

– Vol kleur foto beskikbaar op www.mossview.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *