HOUERS BESKIKBAAR VIR TOKSIESE E-AFVAL

Fase 2 van die gesamentlike toksiese e-afvalprojek van die Mosselbaaise en Knysna Munisipaliteite en die Eden Distriksmunisipaliteit skop op Dinsdag, 18 Maart 2014, in Mosselbaai af wanneer die eerse skeepsvraghouer permanent vir die storting van elektronies afval by die munisipale stortingsterrein by Sonskynvallei op die Oudtshoornpad geplaas sal word.

Elektroniese afval, of e-afval soos dit ook genoem word, sluit rekenaars, skerms, sleutelborde, rekenaarmuise, kabels, drukkers, skandeerders en hardeskywe in. Dit sluit ook items soos televisiestelle, bandspelers, telefone en selfone in. Hierdie toerusting kan tot soveel as 50% gevaarhoudende stowwe, wat as hoogs toksies geklassifiseer word, bevat.

Sekere huishoudelike toebehore soos mikrogolfoonde, skottelgoedwassers, sommige yskaste, droërs, ensovoorts, wat elektronika bevat, word ook geklasifiseer as e-afval. Ingevolge die Wet op Afval word die meeste van die chemiese stowwe wat in elektroniese apparate gebruik word as gevaarlike toksies afval beskou wanneer dit gestort word.

Die meeste van hierdie toksiese materiale beland saam met die gewone afval op die munisipale stortingsterreine, en kan ernstige nagevolge vir die omgewing inhou. Die chemiese stowwe breek op, en sypel die grond binne waar dit die ondergrondse water kan besoedel, of gifgasse in die atmosfeer kan vry stel.

Die Eden Distriksmunisipaliteit , asook die Mosselbaaise en Knysna munisipaliteite, in samewerking met Ma’bone, die diensverskaffer, en Valley Containers, wat die gemerkte vraghouers bewillig het, neem aan die e-afvalprojek deel.

Maatskappye en ander instansies kan Ma’bone direk skakel vir die afhaal van e-afval, of kan hulle e-afval by die Ma’bone depot in George aflaai teen ʼn tarief per kilogram, waarna ʼn sertifikaat van veilige berging uitgereik sal word.

Daar word ʼn beroep gedoen op die algehele samewerking deur alle partye om die onwettige storting van e-afval op ʼn wettige en veilige wyse te hanteer, en in te handig vir veilige berging.
Navrae oor die bekendstellingsdag in Mosselbaai en die e-afvalprojek kan aan Lanese Hesselman by telefoon (044) 606-5143 gerig word. Enige ander navrae insake toksiese afvalbestuur en die veilige hantering en berging van toksiese afval kan ook aan Ma’bone gerig word by 0861 623 672 of info@environmentwatch.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *