Kos vir die siel | Hande vat

Die afgelope week was ek bevoorreg om ‘n baie besondere vrou te ontmoet… Op die oog af is sy so klein en fyn dat ‘n sterk wind haar maklik kan omwaai, maar innerlik is sy absoluut onbeweeglik sterk. Groot was my verbasing om te hoor dat hierdie fyn vroutjie ‘n plaasboer is ………..ja, sy boer alleen, sonder ‘n man aan haar sy. Toe ek bietjie dieper begin delf, ontvou hierdie ongelooflike verhaal.

Sy en haar oorlede man is die vyfde geslag boere op die familieplaas. Op die jong ouderdom van 54 jaar, is hy skielik en baie onverwags tydens ‘n vakansie oorlede. Sy se sy het nooit vir een oomblik getwyfel dat sy sou aanhou boer nie. Haar seun studeer tans, en sy het geweet sy sal alleen aanhou totdat hy, as die 6de geslag by haar kan oorneem.

Elkeen van ons weet dat boerdery vandag geen grap meer is nie, en vir menige man is dit al ‘n baie groot uitdaging, hoeveel te meer vir ‘n vrou. Op my vraag of sy nie bang was en onbevoeg gevoel het nie, is haar antwoord:” DIE WERKERS OP ONS PLAAS IS BAIE BETROUBAAR, SOMMIGE OOK AL BAIE JARE DAAR, EN HULLE HET MY HANDE GEVAT, EN VANDAG DRA ONS MEKAAR! Ongelooflik! In ‘n tyd van stakings, onrus en ontevredenheid, klink dit amper te goed om waar te wees.

Dit het my laat dink oor ons optrede in ons elkedagse bestaan. Help ons nog mekaar? Is ons nog bereid om iets vir iemand anders te doen sonder vergoeding? Vat ons nog mekaar se hande sonder aarseling wanneer ons van nood bewus word?

Ons leef in ‘n tyd waarin ons geld al hoe minder werd word, waarin tyd kosbaar is, waar kennis geld is….. wat is ons gesindheid teenoor ons naaste? “Elke ding het sy prys” hoor ek my vriendin se. Baie waar, maar hoe ver strek hierdie reel. Sal ons gevoude arms toekyk hoe iemand ten gronde gaan net omdat ons nie finansieel gaan baat daarby as ons sou hulp verleen nie? Is ons bereid om betrokke te raak by ‘n saak waar ons enigste vergoeding sal wees dat ons kan weet ons het maar net ons beskeie deel bygedra?
Die talente wat ons het is uit Genade aan ons geskenk. Die kundigheid waaroor ons beskik, het ons met Genade uit die Vaderhand bekom. Die kennis waaroor ons beskik, is uit Genade aan ons toevertrou. Toegegee, ons het ook ons deel bygedra en hard gewerk om te kom, waar ons vandag is, maar dit was nog steeds Genade. Is dit dan reg om te alle tye geld te verwag wanneer ons ons kennis of vaardigheid met ander moet deel? Ek praat nie van jou brood en botter verdien nie, ek praat van wanneer jy dit terloops kan gebruik om ‘n naaste in nood te help.

Miskien moet ons ‘n oomblik stilstaan en besin oor waar ons ons gawes, kundigheid, kennis en talente vandaan gekry het, voordat ons weer ‘n blinde oog draai op die nood van ‘n ander, wanneer ons nie finansieel kan baat deur hulp te verleen nie. Miskien moet ons die blinde oog draai na die verkeerde dinge in ons samelewing en begin fokus op die regte dinge… Terwyl ‘n massa staak en onrus stook op plase, draai ‘n handvol ‘n blinde oog daarop en fokus op die onmiddellike nood rondom hulle, reik ‘n helpende hand uit en staan saam met hul werkgewer se vrou, ongeag wat dit van hulle vra.

En haar getuienis:”Ek ploeg nou terug deur vir hulle te betaal vir eksterne opleiding om hulle beter toe te rus vir die lewe, want ek vat nou weer hulle hande!

Loeloe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *