Kos vir die Siel – Wat laat ek agter,spore?

tumblr_static_footprints-man-beach-morning

Sy word die afgelope paar jaar al kleiner, die hare al witter. Haar refleksie in die venster, waar sy turend oor die see uitstaar om tog net ‘n dolfyn te sien, toon net ‘n klein bondeltjie mens, verdwerg in ‘n groot leunstoel. Op die oog af is sy maar net nog ‘n ou mensie van 82 jaar. In ‘n skare sal sy ongemerk verbygaan, niemand besonders nie, net nog een van die talle bejaardes wat ons daagliks teëkom…totdat sy begin praat.

Positiwiteit en vuur vir die lewe borrel uit haar mond, die oomblik as sy dit oopmaak. In alles sien sy die humor raak. Sy lag met soveel oorgawe dat sy die oorgroot valstande opnuut met vasklem, om ‘n verleentheid te voorkom. Sy reik uit na elke kollega op die ouderdomspad, wat neig na swartgalligheid. Sy vertroos ander wat gebroke treur oor geliefde kinders wat hul vooruitgegaan het na die ewige lewe, al het sy self ‘n kind aan die dood afgestaan. Sy motiveer belangelose bejaardes om tuin te maak en net soveel vreugde daaruit te put as wat sy haar hele lewe lank nog put. Wanneer sy ‘n geskenk vir ‘n vriendin gaan soek, is dit by die kwekery…’n plant met baie blomme, want sy glo jy gee die blomme vir die lewe, nie op ‘n graf nie. Een maal ‘n week ry sy met haar eie “ampsmotor” na die haarsalon, want daar is geen verskoning vir ‘n vrou om met onnet hare rond te loop nie! Daarna laai sy haar getroue vriendin op, en gaan drink hulle tee by ‘n kwekery sodat elkeen met ‘n kassie plantjies kan huis toe gaan. En wee die een wat dalk by ‘n ander geleentheid ‘n plantjie koop wat die ander een nog nie het nie…

Haar kleinkinders vertel vir hul vriende in nood dat Ouma altyd bid, die Here moet haar stil, rustig, tevrede en blymoedig maak in alle omstandighede, want so het hulle haar menigmaal hoor smeek by haar Hemelse Vader, terwyl sy vir Oupa versorg het vir nege jaar na sy beroerte. Nooit het sy gekla nie, maar altyd ‘n grappie gehad om te vertel.

Haar kinders se vriende laat geen geleentheid verbygaan om haar te gaan opsoek nie, want niemand kan glo sy is al so oud nie! Niemand loop uit haar huis sonder ‘n plantjie of twee uit haar tuin nie, of sonder ‘n rumatiek-handgeborduurde unieke tafelnet – waarvan geen twee eenders is nie.

Die lysie kan aangaan en aangaan…rugby, krieket, sy kan saampraat…sangers, televisie, sy ken almal en die programme beter as ons almal saam. Pyn? Daarsonder is sy nooit, maar jy sal dit nooit hoor nie…

En dan wonder ek…watter spore gaan ek agterlaat? Spits ek my toe op positiewe spore? Spore van bemoediging, wysheid, vertroosting, motivering? Of laat ek spore van negatiwiteit en bitterheid na? Sal ek onthou word as ‘n liewe ou tannie by wie mense graag ‘n rukkie wil stilstaan om uit my put van wysheid te drink, of sal ek nors en afstootlik wees en liewer vermy word?

Prediker 12 waarsku ons teen die moeisaamheid, swakheid en gebrokenheid van die ouderdom. “Alles kom tot niks”, staan daar, maar jou spore sal bly. Spore wat ander sal wil onthou…of liewer sal wil vergeet…
Loeloe •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *