Musings – Punchbakkie

Ek gaan haal die Prinses, toe so 7 jaar oud, by die skool. Spesiale opdrag, want Ma is besig met ‘n vergadering, en Pa sit toe sommer halfdag verlof in – miskien kan ons ‘n paar balle gaan slaan? Die gholf het hoeka bietjie aandag nodig!

Babbelende word ek die jongste vertel: “Pappa, Juffrou het gesê dat mens nie goud kan maak nie, want dit is klaar gemaak en Liewe Jesus maak nie meer nie”. (Interessant! Juffrou is besig met gevorderde wetenskaplike konsepte op ‘n baie jong ouderdom…) “Ja, en sy het ook gesê as al die goud op is, PUNCHBAKKIE BLOU!!!” (vergesel van ‘n vrek harde vuishou op my linkerarm) “dan is daar nie meer nie”. (Wat is DIE nou? As ek kleintyd my pa so gemoker het, veral terwyl hy bestuur, het hy net daar afgetrek en my agterwêreld vuurwarm geklop – maar ai, die is darem ‘n meisiekind…)

“Wat is die ‘PUNCBAKKIE’ storie Meis? Hoekom slaan jy aan my?”

“Nee Pappa, dit is soos die kinders op die bus maak, as jy ‘n Punchbakkie sien voor die ander dan mag jy hulle op die arm slaan en party slaan nogal seer” (soos jy, klein Blikskottel!)

“Nou Gogga, wat is ‘n Punchbakkie?”

Onskuldig, sonder om die potensiële komplikasies te oorweeg, sê sy “Wag Pappa, ek sal vir Pappa wys”. En jou wrintiewaar, nie twee blokke verder nie: “PUNCHBAKKIE BLOU!”(GHWAR op my arm – die trane begin opwel agter my oogkaste maar ek wys niks, ek is mos ‘n MAN…)

“Ouch – nou waar is die Punchbakkie Ounooi?”

“Nee hy’s nou al verby, Pappa, maar dis een van die Beetles. Soos die een wat altyd daar by die robot staan? Die PUNCHBAKKIE BLOU!”(KADOEF!!!!! Linkerarm voel al soos ‘n verloorder van ‘n boksgeveg se blou kolle) “Sien, daar staan hy!”

Die vaalblou Volkswagen kewer wat die bron van my lyding is, staan in die oprit by die verkeerslig. Nou verstaan ek. En nou, Boeta, nou gaan ek saam terugspeel en slaan!!!

Saterdag ry ons gou winkels toe. Ma sit langes my in die wit Audi. En braktak, voor ek my kom kry daar by die verkeerslig, is daai diamantring wat sy geërf het by antie Wieookal DOEF in die sawwe vleisies van my linkerbeen ingefoeter. En ewe liefies sê Ma “Punchbakkie mosterd”. So sy het geweet van die punchbakkie storie en vertel my niks!

Van toe af is ek meer op die uitkyk vir Punchbakkies as vir ander verkeer. Maar, soos die dinge nou maar gebeur, is ek altyd die laaste om een te sien, of daar is niemand langs my nie; so, ek kan nie my gesag as Punchbakkieslaner afdwing nie. Frustrasie. En glo my, as ek alleen in die motor is, is daar duisende op die pad, maar laat een van die meisies nou net in my Audi klim, dan kruip al die Beetles vir my weg.

Dit begin naderhand ‘n fiksasie word. ‘n Onbeheersbare strewe om Punchbakkies te sien voor hulle. ‘n Kompulsiewe, reikhalsende rondkyk vir een van DAAI Beetles! Maar nee, dit werk nie so nie.

Na ‘n week is my linkerskouer en linker bobeen al bont – alle skakerings van vars helder blou tot pers en groenerig, lyk soos ‘n luiperd op LSD – die bokser sal kan verduidelik watter skakerings van kneusplekke mens als kry, uit ondervinding. Elke blou kol op ‘n ander stadium van genesing…..

Die opdrag kom baie vinnig van Hoofkantoor af – Mike, die MD, is op die lughawe en ek moet hom gaan haal. Die man is nie ‘n baie geduldige ou nie, ek ken hom goed, en hy moet nog besluit of hy my gaan aanstel in daardie senior pos waarvoor ek aansoek gedoen het. Sy woord sal seker die swaarste weeg, so ek moet hom nie laat wag nie…

Jaag lughawe toe, en genadiglik is ek betyds sodat die ou nie opgewonde raak nie. Op pad kantoor-toe gesels ons soos ou vrinne – en ek sien al die nuwe salaristjek in my geestesoog. Diplomaties stuur ek die gesprek in die rigting van die aanstelling, en in my Boere-Ingels laat ek hom verstaan dat kyk, hy kan nie regtig beter doen nie as om my aan te stel. En, hy klink nogal heel inskiklik! Tot daardie fatale oomblik…

Die swart kewertjie swaai voor my in, en ek moet briektrap dat die pedaal so 4mm bo die teer eindig, maar kry betyds gestop. “PUNCHBAKKIE SWART!!!!!!!!” skrou ek, en my linkervuis, gebal van frustrasie en die ideaal om ‘n Punchbakkie eerste te sien, skiet uit soos n Kaapse kobra, en sink diep in die bobeen in hier langs my! •

Ek het nie die pos gekry nie. En moes ook maar aanvaar en berus dat ek nie ‘n Punchbakkie man is nie; my rol as pater familias sal maar beperk wees tot slaansak om die ander gesinslede beter te laat voel….. •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *