‘N UITTREKSEL UIT DIE BOEK “SANAE 15”

Die 15de S.A Nasionale Antarktiese
Ekspidisie na Antarktika ( Deel 3 )

 

Van ons  voertuie met die Caboose en ys-skeure in die agtergrond

Woensdag 23 Januarie 1974. Ons 6 manne lê vir die eerste keer oë op die oranje caboose – ‘n ou Jurgens-karavaan wat op slees gemonteer is. Dit sal die gletserspan se tuiste op veld-trips wees. Dit is geen normale karavaan hierdie nie – dit herinner eerder aan ‘n plakkershut, want dit is net ‘n dop met vervalle ingeboude kaste en 3 gewone karavaan-beddens wat oorgebly het. Dit het ook geruik soos ‘n plakkershut – dit was smerig nadat die vorige span die afgelope jaar daarin geskuil, gekook, geslaap en gewerk het.
Die echoseintoerusting en veldradio is binne in die caboose vasgeklamp, met die echo-antennes wat buite om die dak vasgebout is.

Ek en Hennie spandeer die volgende week of meer om die karavaan ons eie te maak. Skrop en kap vullis en ys van die vloere en mure af, verf dit uit en vervang die skerm bokant die tweeplaat-primusstoof met nuwe seil en maak ‘n raam van bloudraad. Dit, so terloops, was die laaste groot skoonmaak wat die caboose vir die volgende jaar sou ondergaan!
Tydens opleiding was ons herhaaldelik gewaarsku om nie te degenerate nie, om nie persoonlike higiëne te laat vaar nie – maar dit is maklik om sulke edele reëls vanuit lugverkoelde kantore in Pretoria voor te hou!
Die werklikheid is dat lewe op die ys ‘n stryd is om te leef en te oorleef. Sowat 90% of meer van ons tyd op die ys is spandeer aan ‘nie navorsings-georiënteerde’ take – soos onder-houdswerk, om toerusting en voorraad wat toegesneeu het, weer uit te grawe, voertuie aan die gang te kry, ys te smelt, kos te ontdooi, en tydrowende vervoer oor moeilike terrein (sastrugi [diep ongelyk harde ysoppervlaktes wat deur langdurige winderosie verweer is], sagte diep sneeu, of skeurgebiede.) Of die eindelose proses van batterye herlaai, stewels, sokkies en klere droogmaak, ens.
Die volgende paar weke word al ons toerusting uitgepak, nagegaan, getoets en weer deeglik met sponsrubber verpak vir die lang stamperige binnelandse reis. Kosvoorrade word bymekaargekry en verpak vir die sowat 10 maande wat die 6 van ons in die binneland sal deurbring.
Ek, Dave en een van die ou manne (Rudolph Sevcic – die vorige landmeter) gaan op ‘n kort veldekspedisie om ‘n ou gevestigde ysnetwerk op die ysbank op te meet. Ons gebruik Wild T2-teodoliete en MRA3-tellurometers vir waarnemings. Ons slaap in tweemantentjies en waardeer die praktiese wenke wat Rudolph met ons deel.
Dit was opvallend hoe spaarsamig en oordeelkundig Rudolph water (natuurlik gesmelte ys) gebruik. Klein blokkies ys word in ‘n potjie op die primus gesmelt en tot kookpunt gebring. Dan word twee gevriesde blikkies kos verder in die potjie gekook, totdat dit ontvries het en eetbaar is. Dieselfde water word dan vir ‘n koffietjie gebruik, en nog ‘n bietjie vir die was van borde en bekers. Dan word ‘n laaste stukkie ys by die oorblywende bietjie water gevoeg vir amper yskoue water – net genoeg vir die borsel van tande!!
Môre-oggend begin die proses weer van vooraf vir ontbyt.
Lewe in die buitelug verg vele aanpassings. ‘n Mens verloor sowat 2 ℓ, of meer, vog per dag weens die droë lug wat ons inasem en vog in ons asems wat weer buite kondenseer. Laasge-noemde veroorsaak ‘n onophoude-like loopneus, of as temperature begin daal, yskristalle in ons baarde, snorre en ys-stalaktiete wat aan ons neuse en in ons baarde vorm. In die begin snuif jy, blaas aanmekaar neus, maar besef gou dat hierdie kraan onophoudelik gaan drup!! Die gevolg is ‘n dors wat net nie wil wyk nie – vloeistof moet gereeld inge-neem word om dehidrasie te verhoed.
Om in die oggende te kan tande borsel moet die tandepasta saam slaapsak toe, anders is dit solied ge-ys en tydelik van geen waarde nie.
Later wanneer temperature erg begin daal, sny ons vir ons elkeen ‘n poncho (amper soos Clint Eastwood in sy cowboy-flieks gedra het) uit komberse en slaap daarmee oor ons koppe, gedrapeer oor die slaapsakke, om te verhoed dat yskristalle in die nag op ons slaapsakke aanpak, of dat ons baarde aan die slaapsakke vasys. Dit was veel makliker om die ys van die poncho’s te verwyder en weer droog te kry.

( vervolg…. )

Deur: Lennis van Schalkwyk ( mede skrywer)
Professionele Landmeter.
Sel: 079 398 8567

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *