NUWE VERORDENING OOR ADVERTENSIE BORDE WORD VAN KRAG

Die hersiene verordening insake buitereklame en advertesietekens van die Mosselbaaise Munisipaliteit is op 8 November 2013 in die Wes-Kaapse Provinsiale Koerant afgekondig, en is nou van krag. Die verordening reguleer onder meer naamborde op sakegeboue, eiendomsagentkapsborde, lamppaaladvertensies en losstaande buitelugadvertensieborde.

Die oorspronklik verordening het in Januarie 2010 in werking getree, maar is intussen hersien en uitgebrei.

Daar is verskeie nuwe toegewings en wysigings gemaak ten opsigte van tekens waarvoor die Munisipaliteit se toestemming nie nodig is nie. Dit sluit in ‘n maksimum van twee Te Koop- of Te Huur-tekens, en een Verkoopteken wat voortaan binne die grense van residensiële eiendomme geplaas kan word. Dit sluit eiendomsagentskapsborde in. Dié borde mag nie groter as 0,3 vierkante meter wees nie, of meer as ‘n meter hoog wees nie.

Skoutekens en rigtingwysers by huise mag nou ook vertoon word gedurende nasionale skoolvakansies vanaf 12:00 voor die eerste skoudag. Dit moet teen nie later nie as 20:00 op  die laaste skoudag verwyder word.  Skoutekens mag nie vir langer as sewe aaneenlopende dae per skouhuis vertoon word nie.

Elke skouteken of rigtingaanwyser moet ‘n plakker van die Munisipaliteit vertoon, wat die wettigheid en geldigheidsduur van die skouteken of rigtingaanwyser aandui.

Die maksimum-hoeveelheid sekuriteitstekens is tot twee verhoog, terwyl munisipale toestemming nie verkry hoef te word vir nasionale vlae, veerbaniere, reklameborde in arkades, of tekens wat deel van ‘n optog is nie.

Die maksimum-grootte van vrygestelde besigheidstekens is verhoog van 0,2 vierkante na 0,5 vierkante meter. ‘n Grasietydperk van ses maande vanaf die datum van afkondiging van die verordening sal geld vir goedkeuring van alle besigheidstekens wat die perk oorskry. Sake-ondernemings moet dus ook aansoek by die Munisipaliteit doen vir goedkeuring van tekens wat groter as 0,5 vierkante meter is.

Die gewysigde verordening maak voorsiening vir ‘n groot aantal nuwe tekens wat in ooreenstemming is met die Suid-Afrikaanse Handboek van Buitelugreklamebeheer, en wat destyds in opdrag van die Direktoraat van Omgewingsimpakbestuur van die Departement van Omgewingsake saamgestel is.

Die verordening is op die Munisipaliteit se webwerf by www.mosselbay.gov.za beskikbaar.
Navrae kan aan Francis Brand by telefoon (044) 606-5078 of per e-pos aan fbrand@mosselbay.gov.za gerig word.•

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *