Sake met Francois

VERKEERDE BENADERINGS TOT VOORRAAD KAN DIE BESIGHEID SINK!
Dit is alombekend dat die grootste oorsaak van mislukking van besighede te vinde is in kontantvloei probleme eers as in bankrotskap.
Bankrotskap in wese beteken dat die laste van die onderneming die bates oorskry. Kontantvloei probleme egter impliseer meer dikwels dat daar genoeg bates is wat verkoop kan word om die skulde te betaal, maar die verkoop van die bates neem te lank, en die krediteure (skuldeisers) kan nie so lank wag vir hulle geld nie.
Twee aspekte van voorraad lei tot wanopvattings en soms ongeregverdigde vreugde, wat kontantvloei kan benadeel:

UITVERKOOP
Die eerste is die opvatting dat “Uitverkoop” beteken dat die besigheid goed gedoen het. Om sonder voorraad te wees in ‘n spesifieke item, en die “Uitverkoop” bordjie te moet opsit, is nie regtig ‘n wonderlike prestasie nie – dit is eerder ‘n aanduiding dat die onderneming ‘n geleentheid gemis het om nog meer te kapitaliseer op die gewildheid van ‘n produk. Indien daar meer voorraad beskikbaar was, sou die wins wat volg uit hoë verkope soveel meer gewees het.

TE VEEL VOORRAAD
Die alternatief tot bogenoemde wanopvatting is eweneens negatief, en meer dikwels ‘n bedreiging vir die voortbestaan van die besigheid: Ten einde te verseker dat elke klant wat in die besigheid instap, wel dit sal kry waarna hy soek, koop die handelaar genoeg voorraad. Of, alternatiewelik is die afslag wat die groothandelaar aanbied vir grootmaat aankope so aantreklik dat die onderneming genoeg van die item aankoop om hom ‘n jaar lank aan die gang te hou.

EN DIE PROBLEEM IS?
Te veel voorraad maak soveel kontant vas dat die onderneming baie vinnig probleme ondervind om die krediteure te betaal. Dikwels gebeur dit dan dat van die hoë voorraad teen afslagpryse verkoop moet word om kontantvloei aan die gang te hou – wat dan die oorspronklike bedoeling, nl. om ‘n groter winsmarge te realiseer deur teen laer pryse aan te koop, neutraliseer.

HOEVEEL VOORRAAD IS TE VEEL?
Daar is sekere maatstawwe wat gebruik kan word om te bepaal hoeveel voorraad is te veel. Die belangrikste hiervan is die konsep van voorraad omset per jaar, oftewel die aantal kere wat ek my voorraad “draai” in een jaar. Hierdie syfer word bereken deur die jaarlikse omset te deel deur die gemiddelde voorraadvlak deur die jaar. (Gemiddelde voorraad word bepaal deur die formule {(Aanvangsvoorraad + Eindvoorraad)/2}. As voorbeeld:
Begin voorraad = R400
End voorraad = R250
Gemiddelde voorraad = (R400 + R250)/2 = R650
Indien Jaarlikse Omset = R2000, dan is “stock turns” = R2000/R650 = 3.08, wat beteken dat die gemiddelde item vir (12/3) = 4 maande in voorraad is.
Die koste van oortollige voorraadhouding word geskat op ongeveer 2½% per maand, of 30% per jaar – wat in enige situasie geld in die water is.
Voorraad omset in die geval van bv. kruideniersware behoort nie minder nie as 8 keer per jaar te wees, met ‘n ideaal van minstens 12 – 15 keer per jaar. Hou in gedagte dat verskillende omsette vir verskillende produkte geld.

HOE VERHOOG EK DIE TEMPO VAN VOORRAAD OMSET?
Daar is drie maniere om voorraad omset te verhoog:
* Verhoog verkope sonder om die gemiddelde voorraadverskeidenheid te vermeerder
* Verminder voorraadvlakke sonder om verkope te benadeel
* Verhoog verkope en verminder terselfdertyd voorraadvlakke
Hoewel bogenoemde na ‘n hersenskim en onwerklike droom mag lyk, is dit in 99% van gevalle moontlik om voorraad omset te verhoog, en in die proses winsgewendheid van die onderneming, en gevolglik die opbrengs op belegging, dramaties te verbeter.

Kontak gerus Garden Route Business Services vir meer inligting: Francois le Roux – francois@grbs.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *