SANLAM KANKERDAG SUKSESVOL!

 

DSCF2551

‘n Groot aantal spelers het op Donderdag 1 Mei 2014 (Werkersdag) opgedaag om die Sanlam Kankerdag te ondersteun. Hierdie verdienstelike kompetisie word jaarliks landwyd aangebied en sodoende word derduisende rande ge-in om in ‘n groot behoefte te voorsien. In die A-afdeling (voorgee 0-9) het Hendrik Kriek (voorgee 4) skitterende gholf gespeel en 40 stableford punte aangeteken. Gavin Reynolds en David Wandrag was onderskeidelik tweede en derde op 39 punte. In die B-afdeling het Kosie Otto op 36 punte verseker dat hy na die volgende rondte deurdring. Die C-afdeling (voorgee 19-30) is totaal deur Mike de Villiers (42 punte) oorheers. Gabriël Smith (38 punte) was tweede met Wessel Pieters (35 punte) derde. Die afdeling-wenners speel later vanjaar op George in die streek-finale en die wenners daar sal na Sun City gaan om die kampioene te bepaal.

Christo Langenhoven van Coastal Meats het op 7 Mei 2014 ‘n wonderlike geborgde dag aangebied wat die wenners met pakke vleis huiswaarts laat keer het. Johan en Danie van Langelaar wat die afgelope week die kompetisies oorheers het, het saam met André Middel en Jaco Erasmus die vierbal alliansie kompetisie op ‘n voortreflike 95 punte gewen. Naaswenners Heinrich Rehr, Ronald Frylinck, Riaan en Stephen Schenck het 90 punte aangeteken.

Saterdag 10 Mei 2014 se beterbal stableford kompetisie is in drie afdelings beslis. Die A-afdeling is deur die bestendige JJ Joubert en Karools Hauptfleisch op 41 punte gewen. Wiekus en Annette Pretorius (41 punte) is na die uittel tweede geplaas. Die B-afdeling is heeltemal oorheers deur Johan en Danie van Langelaar (46 punte) met Ferdi Jonck en Louwtjie Louw (43 punte) in die tweede plek. In die C-afdeling het twee strydrosse, Robert Strydom en Dons de Wet, op 43 punte geseëvier. Nog twee veterane, Danie le Roux en Wayne Mitchell, se 40 punte was genoeg om die tweede plek te verower.
Goeie nuus vir ons besoekers is dat u vanaf 1 Mei 2014 tot 31 Augustus 2014 op nie-kompetisie dae teen ‘n bekostigbare fooi van R250-00 per persoon ons mooi baan kan geniet. Bogenoemde fooi sluit ‘n gholfkarretjie in met dien verstande dat u speelmaat dit met u deel.

Vrydagaande is nog steeds ‘n lekker bymekaarkom aand vir ons lede en besoekers. Gelukkige trekkings is aan die orde van die dag en daar is beslis nie ‘n beter manier om die naweek mee af te skop as die heerlike saamkuier met vriende nie.•

ADS 5

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *