van die Redaksie

Redaksie

Tannie…. wie’s jou tannie?

En met die woorde word ‘n jong man baie verontwaardig “op sy plek gesit”.

Eish, was dit nou nodig “tannie” ?
Ek voel skoon jammer vir die jong man en wil so graag vir hom iets sê om sy verleentheid ligter te maak.

So ‘n mooi skoongesig man, kon werklik niks sleg bedoel het nie, en ek dink by myself, hoe op aarde moet ons Afrikaner-ouers die kinders leer wat die aanvaarbare aanspreekvorm vir ander volwassenes is.

In gesprek nou die dag, vra ek toe ‘n vrou wat ook altyd heftig kapsie maak teen “tannie” wat vir haar ‘n aanvaarbare aanspreekvorm sou wees – sy sê toe, “meneer en “mevrou”.

Maar ook dit is nie altyd reg en kan jou lelik in die moeilikheid laat beland.
So hoor ek hoe iemand, ‘n tyd gelede ‘n onbekende vrou as “mevrou” aanspreek en by jou kool – daar draai sy om en sê: “Ek is g’n ‘n ‘mevrou’, ek’s nie getroud”.

“Dame”.. dit kan dalk werk, maar hoe spreek jy nou jou vriendin se ma aan as “dame” – en mevrou is darem net te formeel.
Nou hoe gemaak?

Ag nee wat, ek probeer nie eers meer om die “ouderdom” teen te staan nie – en aanvaar “tannie” met die nodige waardigheid, en aanvaar dit word goed en met respek bedoel.

Ag Tannie: “If it looks like a duck, walks like a duck and quacks like a duck …surely it must be a duck”.

En so al kwakende, groet ek.

– Julie Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *