BROODKNIPPIES GESOEK OM GESTREMDES TE HELP

dries foto

Me Antoinette Murray van die Voëlvlei-tak van die VLV  wat onlangs broodknippies, wat hulle ingesamel het,  aan mnr Dries Cilliers van die Munisipaliteit oorhandig het toe hy die tak gaan toespreek het oor munisipale aangeleenthede. Die tak het onderneem om voort te gaan met die insameling van nog knippies ter ondersteuning van die munisipale insamelingsveldtog.

 

Die projek wat die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, in Julie 2013 plaaslik geloods het om broodknippies in te samel sodat vier rolstoele vir behoeftige gestremde mense verkry kan word, vorder fluks, en knippies met ‘n totale gewig van 110,04 kg is reeds tot einde September 2014 ingesamel.

Vir elke 247,5 kg van die knippies wat ingesamel word, word ‘n rolstoel verkry. Drie maatskappye skenk elkeen nog ‘n rolstoel vir elke rolstoel wat deur middel van die insamelingsprojekte verkry is. Dit beteken dat rolstoele aan vier behoeftige mense geskenk kan word vir elke 247,5 kg wat ingesamel word.

Die Munisipaliteit doen weer eens ‘n beroep op die publiek om broodknippies by die Munisipaliteit of deelnemende skole en kleuterskole in te handig sodat die teiken so spoedig moontlik bereik kan word. Die knippies, wat gebruik word om die plastieksakkies waarin brood verkoop word mee toe te maak, is van hoëdigtheidspolistireen gemaak. Die knippies is baie lig, en groot hoeveelhede word benodig om die teiken van 247,5 kg te bereik. Dit is geskik vir herwinning, en kan weer gebruik word om produkte soos houers vir saailinge, vloerlyste, kroonlyste en klerehangers te vervaardig.

Die knippies kan ingehandig word by die munisipale kassierspunte by die Munisipaliteit in Marsh Straat asook die munisipale kantore in D’Almeida, Groot Brakrivier en Hartenbos. Dit kan ook by deelnemende skole soos die Hoërskool Punt, Sao Bras Sekondêre Skool, Hartenbos Laerskool, St Luke’s Primêre Skool en Groot Brakrivier Primêre Skool, en die Juweeltjie, Sonskynvallei en ACVV Sandkasteel Kleuterskole ingehandig word.

Die broodknippieprojek is ‘n landswye projek wat ongeveer agt jaar gelede deur me Mary Honeybun van Noordhoek in die Kaap begin is, en word nou deur die Polistireenverpakkingsraad van Suid-Afrika gekoördineer. Gemiddeld 75 rolstoele word jaarlikse deur middel van die projek aan gestremdes geskenk.•

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *