Category: Van die Redaksie

van die Redaksie

RedaksieEn daar kry “boontjie sy loontjie” !

Ek, wat nog altyd so bewus en beïndruk was met Mosselbaai se wetstoepassing, is vandag tot groot verleentheid self uitgevang.

Altyd aan die hardloop, bel ek so in die ry gou ‘n nuwe werknemer om darem seker te maak sy hou nog kop bo water, en net daar … uitgevang.

Toe ek weer sien, maak ‘n wit motor, so in die ry , en dit nogal van die teenoorgestelde rigting ‘n onverwagte u-draai, om direk agter my in te kom. Toe ek in my tru-spieël die glim-baadjie sien, besef ek eers mooi wat aangaan … vandag het ek moeilikheid !!

Van die skrik stop ek skoon by die groenlig, met almal wat wonder en staar. Toe ek tot verhaal kom ry ek weer vorentoe en soek ‘n plek om af te trek. Kompleet asof ek nie alreeds besef het ek moet aftrek nie, en om tot my groot verleentheid by te dra, word al wat ‘n lig is aan die beampte se motor aangesit.

Glad nie trots op die situasie nie, sien ek die mense se gesigte so in die verbygaan, party dink seker, “shame” of “dom vroumens” en ander “lekker…uitgevang” – eish, glad nie ‘n benydenswaardige posisie om in te wees nie.

Vriendelik, hoewel kwaad vir myself, neem ek die boete van ‘n glimlaggende beampte, wat tot my spyt, nou sowaar nie eens oorweeg het, om my ‘n kans te gee en met slegs ‘n waarskuwing te laat gaan nie – beslis nie my gelukkige dag nie.

Bloedgeld, maar laat dit vir jou ‘n les wees.
Mosselbaai se wetstoepassers slaap beslis nie !!

NS: By nabetragting wonder ek net – was “my sonde” regtig erger as die onverwagte u-draai in die verkeer ?

van die Redaksie

Redaksie

Net waar jy gaan, kla mense oor tyd …. nie genoeg tyd !!

Ma kla gedurig oor hoeveel tyd sy spandeer aan kinders rondry, hulp met skoolwerk en take, huiswerk doen, koskoop en dan nog kosmaak ook, sy kry net nie tyd vir haarself nie. Pa kla daar is nie genoeg tyd vir golfspeel of visvang nie en die kinders kla oor te veel skoolwerk, toetse en buitemuurse aktiwiteite.

Het dit nie dalk ‘n maklike verskoning geword nie, “…. ek is te besig”.
Die gevaar – as jy dit bly dink en sê, glo jy dit later.

Die lewe raak een groot gejaag met almal oppad – niemand weet waarheen en geen eindpunt in sig.

Soms kry jy die idée dat mense in ‘n veeleisende beroep, met al die normale eise van ‘n gesinslewe, altyd tyd kan maak vir nog!

Nou glo dit … daar IS tyd vir alles !!
Maak net eers tyd om jou lewe reg te pak.

Maak tyd:
• Vir skeppende, kreatiewe dinge bv tuinmaak, sport, oefen
• Tyd saam met jou kinders. Tienerprobleme het oorweldigend te doen met gebrek aan tyd tussen ouers en kinders.
• Tyd om verhoudinge te bou tussen bv vriende, vriendinne.
• Tyd vir lag – lag vir jouself of doen iets laf. Lees elke dag ‘n grappie.
• Tyd vir ‘n drukkie – ja, omhels en druk jou tienerseun, al maak hy of hy dit haat.
• Tyd om lief te hê – Liefde vra tyd, kwaliteit-tyd, nie 5 min se aandag gee nie.
• Tyd vir vrede. Hoe lyk dit by jou? Oorlog of onmin in die huis of by die werk?

Nee, ek het tot die besef gekom, daar is vir ‘n mens niks beter as ‘n gebalanseerde lewe, en om vrolik te wees, geliefd en of bemind te voel en so die goeie van die lewe te geniet nie.

Wat kies jy?

 

van die Redaksie

Redaksie

Dalk is dit moeilik vir mense wat hulle hele lewe lank in die mooie Mosselbaai-kusomgewing bly om te verstaan hoe die stadsjapies kan lieries raak oor die “tropiese paradys”.

Oppad Eb & Flow toe, net voor jy die Wildernis ingaan, ontmoet en betower die mooiste see-uitsig jou en die nimmereindigende breek en rol van die branders laat jou met heimweë terugdink aan ‘n magdom wonderlike tye en ……. nie sulke wonderlike tye nie.

Vir die eerste keer verstaan ek hoekom mense so graag dink en wil glo daar gaan nie veel aan by die see nie.

Natuurlik is dit nie waar nie, wat wel waar is, is dat daar minder van alles is.
Minder verkeer, minder gejaag, minder stres, minder besoedeling, minder mense, minder groot besighede, minder geld en minder geleenthede….maar, meer omgee, meer wetstoepassing, beter bestuur, meer glimlaggies en meer tyd vir “praatjies maak ”.

Die voordeel – dienslewering is uitstekend (al kla mense onophoudelik). Ek wil glo – bestuur en hoe werkers behandel word bepaal die resultate.
Waar kan jy in die stad by ‘n Bank, Polisie kantoor of by die Munisipaliteit se kantore instap, vriendelik gegroet word en oor die algemeen weer binne ‘n halfuur uit wees?

Glo my na meer as 30 jaar in die stad was ek selde, indien ooit, so gelukkig om sulke diens te ervaar.

Ek kan nie help om te dink, arm is die van ons wat hier bly, maar die goeie en die mooi nie meer raaksien nie … of noem ‘n mens dit net “pure bederf ?”

van die Redaksie

Redaksie

Tannie…. wie’s jou tannie?

En met die woorde word ‘n jong man baie verontwaardig “op sy plek gesit”.

Eish, was dit nou nodig “tannie” ?
Ek voel skoon jammer vir die jong man en wil so graag vir hom iets sê om sy verleentheid ligter te maak.

So ‘n mooi skoongesig man, kon werklik niks sleg bedoel het nie, en ek dink by myself, hoe op aarde moet ons Afrikaner-ouers die kinders leer wat die aanvaarbare aanspreekvorm vir ander volwassenes is.

In gesprek nou die dag, vra ek toe ‘n vrou wat ook altyd heftig kapsie maak teen “tannie” wat vir haar ‘n aanvaarbare aanspreekvorm sou wees – sy sê toe, “meneer en “mevrou”.

Maar ook dit is nie altyd reg en kan jou lelik in die moeilikheid laat beland.
So hoor ek hoe iemand, ‘n tyd gelede ‘n onbekende vrou as “mevrou” aanspreek en by jou kool – daar draai sy om en sê: “Ek is g’n ‘n ‘mevrou’, ek’s nie getroud”.

“Dame”.. dit kan dalk werk, maar hoe spreek jy nou jou vriendin se ma aan as “dame” – en mevrou is darem net te formeel.
Nou hoe gemaak?

Ag nee wat, ek probeer nie eers meer om die “ouderdom” teen te staan nie – en aanvaar “tannie” met die nodige waardigheid, en aanvaar dit word goed en met respek bedoel.

Ag Tannie: “If it looks like a duck, walks like a duck and quacks like a duck …surely it must be a duck”.

En so al kwakende, groet ek.

– Julie Retief

van die Redaksie

Redaksie

Daar word gesê: “Dit vat alle soorte om die wêreld te maak” – seker dié dat dit so moeilik is om altyd mense te verstaan.

Weet almal dan nie wat ‘n glimlag en vriendelikheid doen aan iemand in ‘n andersins koue ongenaakbare wêreld, waar niks verniet is, bietjie vir ‘n tiekie en min mense maklik uit hulle pad gaan om die wêreld ‘n beter en gelukkiger plek te maak nie ? Of kan dit wees dat elkeen te besig is met sy eie oorlewingstryd ?

Om elke hoek loop jy jou vas in iemand wat onnodig kwaai of sommer net moeilik of onredelik is.
Kompleet asof hulle nie iemand anders iets/sukses gun nie en daarby hulself die reg toe-eien om jou dag om te krap.
Is dit jaloesie, is dit ‘n vorm van manupulasie, is dit ‘n vergrote ego, vir selfbelang, net plein moeilik…..of is dit gedryf deur onsekerheid in ‘n poging om raakgesien te word ? Wie sal weet ?

Of jy wil of nie, jy word onwetend ingetrek en tot kompetisie uitgedaag, tot omdraai amper onmoontlik raak.

Dit is wanneer ek aan Phillip, ‘n vorige werkgewer dink – hy het altyd gesê: “Kindjie vergeet die ander ..… daar is genoeg vir almal daar buite”.
Jy het nie nodig om gemeen, skelm of agterbaks te wees in ‘n poging om iets te bereik nie – nee, al wat jy moet doen is NOG HARDER WERK en GLO in wat jy doen “.

En dis hoe ek hom onthou, geliefd en gerespekteer deur almal – sy werkers EN sy kwaaiste opponente. Harde werk, en net dit, het hom sukses laat smaak.
‘n Man wat ‘n wonderlike voorbeeld en inspirasie vir ander was, ‘n man wat nie omgegee het om sy eie hande vuil te maak nie, ‘n baie welgestelde, maar tog so ‘n nederige man.

Vir almal wat poog om die wêreld ‘n beter en gelukkiger plek vir ander om hulle te maak … ek wil glo, julle is ons “aardse engele”.

Doen so voort.

Julie Retief – (red)

van die Redaksie

Redaksie

To most South Africans food is a “big thing”.

Now combine that with friends, good company, wine, poetry, art, live entertainment and fun for the whole family and you have a winning combination.

Now, that is what is awaiting you, at the annual MOSSEL BAY PROE FESTIVAL this coming weekend.

‘n Magdom klein, maar tog sulke interessante plekkies lê weggesteek en onbekend in ons omgewing. Om maar een te noem – hoeveel van ons weet dat oesters om die draai van ons by Klein Brak gekweek word ?

Then there is Milkwood Primary School. They are having an International Evening, on Friday 28 February 2014. A Mini Festival and stalls with various dishes from around the world. Be sure not to miss that.

Events happen at 30 different venues all over the Mossel Bay District and some of the activities to experience include –
appearances by well-known food personalities, wine tasting, cooking demonstrations and competitions, as well as exhibitions and other activities at various galleries.
For more information visit: the Food, Art and Lifestyle Route-Mossel Bay website.

Kom en wees deel van die naweek se feestelikheid.
Besoek ten minste een nuwe plek en/of eet iets lekker op die PROE ROETE.

 

Sien julle daar,

Julie Retief (Red)

van die Redaksie

Redaksie

Stom geslaan !!

Wys my waar daar nog ‘n plek is waar skoonmakers 22:00 op ‘n Vrydagaand papiere langs die pad optel?
Ja, julle het reg gelees, 22:00 op ‘n Vrydagaand.

Maandagoggend, lank voor 9:00 en die Feesterrein, waar die naweek se Diasfees verrigtinge oa. plaasgevind het, en feitlik alles is opgeruim en netjies …ongelooflik !
Vir diegene wat nog kla – ek wens julle kan dinge sien soos ons, wat van “elders” af kom.
Ek is trots om nou deel hiervan te wees. Daarby motiveer dit my om my deel te doen en mense wat kla, reg te help.
Mosselbaai, ons is trots op ons dorp en almal aan die stuur.

Tot ‘n volgende keer,

Julie Retief (Red)

van die Redaksie

Redaksie

Die Diasfees is hier en ‘n duidelike feesstemming is sigbaar en besig om alom momentum op te bou. Wees daar !!!
Iets vir almal om te geniet en aan deel te neem … ja, selfs vir ons “honde-kinders” is daar gesorg. (Lees berig elders).

Maklik vergeet ons die mense, instansies, munisipaliteit, organisasies, besighede en ander wat agter die skerms werk om dit alles moontlik te maak. Ons sien dit raak en bedank u almal vir die ure en ure se beplanning, reëlings, tyd, finansiële bydraes en toewyding wat dit geverg het, om van so ‘n geleentheid ‘n sukses te maak.

Ook vir die manne en vroue in uniform, mediese personeel en verkeerspersoneel wat gereed staan om enige gebeurlikheid te hanteer. Ons sien raak wat julle doen – mag die feestyd julle nie te moeg agter laat nie.

Dan is daar ook ander soos die skoonmakers, vullisverwyderaars, vrywilligers en ander (om maar net ‘n paar te noem), ons sê “dankie vir jul toewyding en harde werk, mag die feestyd ook vir julle ‘iets lekkers’ inhou”.

Soos David, Pinnacle Point se hek-sekuriteitswag met groot blymoedigheid en’n glimlag wat jou laat nadink, sê: “Maak nie saak wat, laat vandag ‘n ‘jubeldag’ vir jul wees”.

Tot volgende keer,

Julie Retief (Red)

Van die Redaksie – 17 Januarie 2014

Redaksie

Skielik is alles weer stil en terug na “normaal”.

Vir die gelukkiges is dit tyd vir asem skep en geld tel !!
Nie dat daar baie tyd is nie …die Diasfees (Don. 30 Jan – Son 2 Feb 2014) is om die draai en joligheid in Mosselbaai hou mos nooit op nie.

‘n Magdom kunstenaars gaan optree en aktiwiteite soos ‘n vuurwerkvertoning, valskermspring, kunsvliegkompetisies en die SAPS Orkes gaan feesgangers vermaak.

Soos wat die nuwe jaar dan op ‘n hoë noot begin, wens ons al die lesers ‘n interessante jaar vol aangename verrassings in.

Aan al die leerders wat weer Woensdag 15 Januarie moet inval, begin die jaar positief en werk hard, want dit is die sleutel tot sukses.

Vir die kleintjies wat hierdie jaar skool begin, hoop julle Mammas oorleef dit.
Die wete dat jou “baba” groot word en alles wat “juffrou” sê nou swaarder gaan weeg,
is maar ‘n bitter pil.

Tot ‘n volgende keer,

Julie Retief (Red)

van die Redaksie – 8 November 2013

Redaksie

Die seisoen van liefde en “sprokies- huwelike”.

Net waar jy gaan hoor jy van iemand wat trou.  In ‘n kwessie van een maand het ek al twee troues bygewoon …en die volgende, my dogter s’n, is om die draai.

Die eindelose lysies, beplanning, opvolg en weereens opvolg, wat dit alles voorafgaan is senutergend.
Dan praat ek nie eens van die rusies, geld drome en verwagtinge wat hiermee saamgaan nie.

Vrouens en mans se langverwagte drome van ‘n “sprokies – bruid” wat deur haar “prins” weggevoer word om vir ewig lank en gelukkig saam te lewe, het uiteindelik aangebreek.

Is ‘n “sprokies-huwelik” nog moontlik ?  Nie as jy na vandag se statistieke kyk nie.
Onrealistiese verwagtinge is ‘n groot probleem.
Maar nouja, niemand kan ‘n huwelik negatief aanpak nie.  Dus, aan al die huwelikspare en hul families, bid sonder ophou vir jul kinders en jul eie huwelike en GLO die GOEIE VADER  vir die res.

Opgee MAG NIE die maklikste uitweg wees nie.

Daarby moet ons besef dat ‘n huwelik daagliks aan gewerk moet word.  Soos alles in die lewe, kom NIKS  sonder ‘n bietjie moeite, opoffering, vergifnis, kommunikeer en baie verdraagsaamheid nie.
Dit is dit werd en ons dit weer aan ons kinders verskuldig.

Sterkte,
Julie Retief (Red)