Dames skop hoog!

Groepfoto van 9 spanne wat teen mekaar meegeding het.

Die Dames-afdeling van Mosselbaai Gholfklub het op Donderdag 17 April 2014 hulle jaarlikse inter-provinsiale gholf/rugby kompetisie gehou. Nege provinsiale spanne is verteenwoordig en hulle is aangenaam verras met die teenwoordigheid van Springbok-slot Andries Bekker. Hierdie vriendelike reus wat 208 cm (6voet 11 duim) in sy sokkies staan, het baie kleur aan die dames se dag verleen. Die geesdrif het geen perke geken nie en nadat elke provinsie sy oorlogskreet ge-uiter het, het die kompetisie al laggende afgeskop. Die Cheetahs was aan die einde van die dag die wenners, maar tien uit tien vir die dames vir die wonderlike gees en entoesiasme waarmee hulle die dag aangebied het.

Laerskool Park se geborgde gholfdag op Woensdag 16 April 2014 is deur 176 spelers ondersteun. Toesie Dercksen en Petrie Cronjé verdien spesiale vermelding vir al die harde werk om van hierdie dag ‘n groot sukses te kon maak. Die beterbal kompetisie is deur Gustav Steinhobel en Roelof Engelbrecht op ‘n skitterende 50 punte gewen. Die tweede en derde plekke is onderskeidelik deur Louw Strydom en Linchen Wessels, asook Stefan van Vuuren en Tiaan Tredoux op 48 punte gewen.

Vrydag 18 April 2014 se beterbal stableford uitslae was as volg. Wenners: Rouxwy en Wessel van Wyk (48 punte) met Matthew Lundie en Andrew Light (47 punte) in die tweede plek. Saterdag 19 April 2014 het Bertu en Marco Nel die A-afdeling van die beterbal syfer plus kompetisie op +9 gewen. Barrie Klindt en Dolf Groenewald (+11) was die wenners in die B-afdeling met Sabine Schultz en David Herman (+12) die wenners van die C-afdeling.

Vrydagaande is nog steeds ‘n lekker bymekaarkom aand vir ons lede en besoekers. Gelukkige trekkings is aan die orde van die dag en daar is beslis nie ‘n beter manier om die naweek mee af te skop as die heerlike saamkuier met vriende nie.
• Jannie Lourens

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *