DIE NUWE ATKV HARTENBOS SEEFRONT

17

Met ‘n trotse geskiedenis van 79 jaar is ATKV-Hartenbos gereed om ‘n nuwe baadjie aan te trek. Dit kom nadat die ATKV toestemming verkry het om voort te gaan met die planne vir die ontwikkeling van die Hartenbos Seefront.

Na verskeie gesprekke en voorleggings, het die Raad van die Mosselbaai Munisipaliteit die goedkeuring aan die ATKV verleen om voort te gaan met die projek.

Die eerste fase van die ontwikkeling gaan nie net ʼn aanwins vir die ATKV en sy lede wees nie, maar ook vir Mosselbaai en die Suid-Kaapse toerismebedryf.

Die ontwikkeling sal in vier fases gedoen word waarvan die eerste fase teen einde November / vroeg Desember2015 afgehandel sal wees om te verseker dat vakansiegangers oor die Feesseisoen hul welverdiende vakansie kan geniet. In dié eerste fase sien die ontwikkeling as volg daarna uit:

• Die Skoffelskuur en Na Donker-kuierplek en restaurant verskuif na langs die Walvissaal.
• Die konstruksie van die ablusieblok op die B-kampeerterrein.
• Die warmwater-onderdakswembad word opgegradeer en uitgebrei.
• Die konstruksie van die eerste gedeelte van die kleinhandelfasiliteite en nuwe pretpark begin.
• Verskeie pad-opgraderings word rondom die terrein voltooi.

Belangstelling onder kleinhandelaars vir vloerspasie in die ontwikkeling is reeds baie groot en onderhandelinge begin nou in alle erns om vir gaste, kopers en die gemeenskap waarde en verskeidenheid te bied.

‘n Nuwe maatskappy is reeds gestig om uitvoering aan die projek te gee en die ATKV sal ‘n aandeel van 50% plus een hê. Die res sal deur ander aandeelhouers besit word. Alle werk gedurende die ontwikkeling sal deur middel van ‘n deursigtige tenderproses hanteer word. Plaaslike diensverskaffers sal ook aan die prosesse kan deelneem.
Ons wil ook die geleentheid gebruik om die volgende inligting aan gaste en besoekers aan die ATKV-Hartenbos Vakansieoord, gedurende die konstruksieperiode asook die 2015 Desember-vakansieseisoen, deur te gee:

· Alhoewel die Pretpark slegs gedeeltelik toeganklik sal wees (wipmatte, minigholf en kouewaterswembad) sal daar verskeie alternatiewe vermaak vir jonk en oud aangebied word by die Amfiteater.
· Weens konstruksie en die voldoening aan veiligheidsmaatreëls sal sekere parkeerareas nie beskikbaar wees tydens Desember 2015 nie, maar voorsiening vir addisionele parkering sal gemaak word.
· Ter wille van veiligheid sal ongeveer 25 staanplekke op die B-kampeerterrein gedurende konstruksie, sowel as oor Desember 2015 nie beskikbaar wees nie.
Die Hartenbos Seefront se tweede fase skop vroeg in 2016 af vir voltooiing teen Desember 2016, wat insluit die omskepping van die Walvissaal in ‘n meerdoelige sentrum wat onder andere ʼn ysskaatsbaan gedurende die vakansieseisoene sal insluit, konstruksie van verdere kleinhandelwinkels en restaurante asook n splinternuwe water- en pretpark.

Fase drie van die ontwikkeling behels die opgradering van die bestaande strandoordsentrum en fase vier sluit nuwe luukse vakansiebehuising in.

Japie Gouws
Besturende Direkteur: ATKV-Groep

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *