HONDE OP STRANDE TOEGELAAT

Honde sal van hierdie naweek af vir ‘n proeftydperk van tien maande op sekere strande in die Mosselbaaise munisipale gebied toegelaat word.
Ingevolge ‘n Raadsbesluit wat op 28 November 2013 geneem is, sal honde van 1 Februarie 2014 tot 30 November 2014 op Santosstrand en gedeeltes van Diazstrand, Bayviewstrand, Hartenbosstrand, Klein Brakrivierstrand, Reebok/Tergniet, Groot Brakrivier en tussen Eerste Strand en Tweede Strand op Danabaai toegelaat word.
Die gedeeltes waar die honde toegelaat sal word, sal met duidelike kennisgewingborde aangedui word.
Die honde moet te alle tye aan ‘n leiband vas wees, en onder die beheer van die eienaar of ‘n hanteerder wees. Ander voorwaardes is dat die eienaars of hanteerders te alle tye beheer oor hul honde moet hê, en nie die honde mag toelaat om ander strandgebruikers te pla nie.
Kwaai honde moet gemuilband wees, terwyl tewe wat op hitte is nie op die strande geneem mag word nie. Die eienaars of hanteerders sal verantwoordelik wees vir opruiming en verwydering van hul honde se ontlasting op strande, grasgebiede, paadjies, parkeerterreine, en enige gebiede wat deur voetgangers gebruik word. Voetgangers sonder honde moet altyd voorrang geniet.
Honde word verbied op strande in die Mosselbaaise munisipale ingevolge die Verordening insake die Aanhou van Honde, soos afgekondig op 20 November 2009, die Wysigingsverordening insake die Aanhou van Honde, soos afgekondig op 3 Junie 2011, en die Verordening insake die Beheer van die Strand en die See, soos afgekondig op 3 Junie 2011. Oortredings van hierdie verordeninge is strafbaar met boetes van R500.
Laasgenoemde verordening maak egter voorsiening daarvoor dat die Munisipaliteit, nadat ‘n omgewingsimpakstudie uitgevoer is en ‘n gemeenskapsdeelnameproses gevolg is, honde en perde onder sekere voorwaardes en beperkings na goeddunke op strande kan toelaat. Die besluit van die Raad op 28 November 2013 is geneem nadat die genoemde stappe in samewerking met die Mossel Bay Environmental Partnership geneem is. •

hondeborde22jan14

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *