Kos vir die Siel | Die Goue Jare

Van kleins af het bejaardes my soos ‘n magneet aangetrek. Ek onthou nog goed, toe ons op ‘n klein Vrystaatse dorpie gewoon het, het data ‘n tannie skuins oorkant ons gewoon by wie ek so graag gaan kuier het. Daar het nooit iemand by haar gekom nie. My maats het my geterg en gese sy gaan my “toor” want sy is ‘n “heks”. Vir ‘n vrugbare kinderverbeelding kon sy dalk verdag gelyk het met haar lang grys hare wat tot op haar heupe gehang het, en wanneer sy gelag het, het twee voortande wel maker …. maar haar hart was warm en opreg en haar wysheid… onbeperk.

Ek kon vir ure luister na haar stories oor haar kinderdae op die plaas, en my verkyk aan al die artikels wat sy met haar vlytige hande gebrei en gehekel het. By haar het ek geleer om koffiebone te brand en te maal en die heerlikste soet swart koffie te drink. Sy’t my geleer beskuit knie sodat die bolletjies kon uitpof soos spookasem! En sy het my geleer hoeveel waarde dit het om vir ander om te gee….

So gaan kuier ek verlede week weer by die plaaslike aftree-oord vir ‘n paar eensame mense. Suster wys my na ‘n statige dame op ‘n stoel in die sonnetjie. Dankbaar steek sy twee verknokkelde hande na my uit sodat ek bietjie room daaraan kan smeer. Sy vertel borrelend van al die gemeentes waar sy en oorlede “Dominee” soveel vreugde ervaar het. Nie een keer kla sy oor haar eensaamheid nie. Sy loop oor van dankbaarheid vir “Die Heer se Genade” Wanneer ek klaarmaak om te loop vra sy angstig wanneer ek dan weer gaan kom….

Tannie nommer twee sit ook in ‘n sonkolletjie voor haar woonstel. Sy groet vriendelik toe ek daar kom, maar protester dadelik oor die handeroom. “Ek betaal niks!” verklaar sy onomwonde. Dan loer sy nuuskierig na die potjie in my hande en se ek moet maar bietjie aansmeer. Die Oom stap verby en fluister onderlangs “Demensie”. Toe ek loop vra ook sy angstig wanneer ek weer gaan kom.

Dis die een onafwendbare pad wat ons almal gaan loop – niks kan dit keer nie – nie finansiele status nie, nie hoe aansien nie, nie goeie dade, eetgewoontes of leefstyl nie, nee absoluut niks kan die roete of die ritme verander nie. Ons gaan almal oud word. Punt! En soos Nataniel se: “Los hulle om te maak soos hulle wil en respekteer hulle daarvoor want jy is ook op pad soontoe!”

Hoe kosbaar is ons oues van dae nie. Hoeveel wysheid en insig le nie opgesluit in daardie verskrompelde liggame nie? Moet ons nie meer moeite doen om aan hulle voete te gaan sit en by hulle te leer nie? Verloor ons nie kosbare inligting omdat ons hulle verwaarloos nie?

In Prediker 12 vermaan die skrywer ons om aan ons Skepper te dink in ons jong dae voordat die jare kom waarvan ons sal se dat ons daar geen behae in het nie. Is dit nie ook ‘n vermaning dat ons in ons jong dae meer moeite moet doen met die vir wie daardie jare reeds gekom het nie? Een ding weet ek verseker, elke keer nadat ek ‘n besoek aan die aftree-oord gebring het, weet ek ek sal weer teruggaan… al is dit net om die blymoedigheid en dankbaarheid te gaan ervaar… om te gaan rus vind in hul rustigheid en kalmte… en te vertrou dat daar eendag, op my oudag, ook iemand sal wees wat my hande met bietjie room sal smeer en ‘n paar woorde met my sal gesels…

Loeloe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *