Kos vir die Siel – Veg of Vlug

Veg of Vlug

Pa was ‘n man van min woorde, maar wanneer hy gepraat het, was dit met groot wysheid en kon jy maar luister. So het ek menigmaal, in moedeloosheid versonke, my lot by hom bekla wanneer my omstandighede my wou oorweldig. Hy het altyd, gemaak ongeerg, geluister sonder om ‘n geluid te maak. Geen “ja” “Uhm” of “ek hoor” nie, absoluut niks – net geluister. En wanneer ek klaar alles uit my gestel “geblaker” het, sou hy ewe rustig sy sê sê en jy kon daarmee maak wat jy wil.

So bekla ek eendag weer my lot by hom toe dit vir my voel of ek nooit ooit uit die donker put van my omstandighede gaan uitkom nie, en hy gee my hierdie wyse antwoord. “MOET NOOIT VERGEET WIE JY IS NIE! Ons familie gaan NOOIT lê nie. Ons veg tot die bitter einde om weer bo uit te kom, ongeag ons omstandighede. Op my vraag: “Maar hoe?” is sy antwoord: “Raak stil in jou omstandighede…. Identifiseer jou problem…. Kry ‘n plan van aksie en WERK DAARAAN SONDER OPHOU! POSITIEF! Net dit.

Jare later sit ek en my getroue huishulp van baie jare, en worstel om ‘n magdom werk in ‘n kort tydjie af te handel. Sy was vir my soos ‘n “Ma” . Baie ouer as ek, baie wyser as ek en op daardie oomblik ook baie rustiger as ek! Toe ek vir die hoeveelste keer moedeloos sug dat ons nooit gaan klaarkry nie, kyk sy my simpatiek aan en sê: “Kleinnooi, jy moenie so wyd kyk nie! Jy kyk aanmekaar na die klomp werk wat ons nog MOET doen. Kyk liewer net hier waar jy werk. BIETJIE VIR BIETJIE GAAN ONS HIERDIE WERK KLAARKRY! Watter ongelooflike wyse woorde!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *