MOSSELBAAI GROENSTE MUNISIPALITEIT IN WES-KAAP

groenstemunisipaliteit20nov13

Raadsheer Emil Scheepers, Raadsdame Marie Ferreira (Uitvoerende Burgemeester), Dr Michele Gratz (Munisipale Bestuurder),
Me Estelle Burger (Omgewingsbeampte), Mnr Piet van Zyl (Departementshoof van Plaaslike Regering,
Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning van die Wes-Kaapse Regering) en Raadsheer Jim van der Merwe by die funksie in
Stellenbosch waar Mosselbaai aangewys is Groenste Munisipaliteit vir 2013 in die Wes-Kaap.

Mosselbaai is Dinsdagaand (19 November 2013) as die wenner van die Wes-Kaapse Groenste Munisipaliteit vir 2013 aangewys, en het in die proses prysgeld van R120 000 losgeslaan. Mosselbaai sal nou ook die Wes-Kaap in die 2013 Nasionale Groenste Munisipaliteit-kompetisie verteenwoordig.

Die aankondiging is gedoen by ‘n onthaal wat gisteraand in Stellenbosch gehou is. Sewentien van die 24 plaaslike munisipaliteite in die Wes-Kaap het vir dié jaarlikse kompetisie ingeskryf.  Drakenstein was tweede, en Swartland en Overstrand het die derde pryse gedeel.

Mosselbaai het ook drie van ses kategorieë van die kompetisie, naamlik vir lugbesoedeling; energiedoeltreffendheid- en bewaring en vir leierskap, voldoening, institusionele reëlings en publieke deelname gewen. Die Munisipaliteit het ook die toekenning vir innoverende projekte vir sy biodrupsypelprojek in Voorbaai ontvang.

“Ons is uiteraard verheug oor die toekenning want dit het harde werk en sorgvuldige bestuur van ons aksies en projekte geverg. Behalwe die feit dat ‘n gesonde omgewing in die belang van al ons inwoners is, is Mosselbaai ook ‘n toerismebestemming wat baie belangrik vir die plaaslike ekonomie is. Dit is dus noodsaaklik dat ons aandag gee aan aspekte wat Mosselbaai so aantreklik en aanloklik as moontlik vir toeriste maak, en hierdie toekenning toon die Munisipaliteit se erns met die saak,” het die Uitvoerende
Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira gesê.

Mosselbaai het verlede jaar die tweede plek in die kompetisie behaal. Die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz, het gesê die prysgeld sal, soos verlede jaar weer, teruggeploeg word in projekte om Mosselbaai se status as die Groenste Munisipaliteit in die Wes-Kaap te handhaaf.
Die kompetisie het vroeër jare bekend gestaan as

die Skoonste Dorp-kompetisie, maar is sedertdien uitgebrei tot ‘n baie meer omvattende kompetisie wat onder meer faktore soos afvalbestuur, kusbestuur, luggehaltebeheer en waterbestuur insluit.•

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *