MOSSELBAAI SKUD VERE REG VIR GRATIS DIASFEES

Mosselbaai is besig om sy vere reg te skud vir nog ‘n Diasfees, en die reëlings vir die volgende fees van 30 Januarie 2014 tot 2 Februarie 2014 is reeds ver gevorderd.

Soos die met die vorige twee feeste, sal toegang gratis wees om dit vir soveel as moontlik mense moontlik te maak om die fees by te woon.

Lugvertonings, wat in 2012 en 2013 sulke hoogtepunte was, sal weer deel vorm van die 2014-fees, terwyl ‘n vuurwerkvertoning ook beplan word. Die SA Polisiediens sal aan die fees deelneem, terwyl die Indonesiese Konsulaat-Generaal in Kaapstad ook weer hul deelname in die gees van die feestema van “Waar Kulture Ontmoet” bevestig het.
Onderhandelinge met van Suid-Afrika se bekendste musikante, onder andere Idols-wenners Elvis Blue, Heinz Winckler en Sasha-Lee, en finaliste soos Lloyd Cele, Crushanda Forbes en Gift Gwe, om by die fees op te tree, is feitlik voltooi. Nog bekendes met wie onderhandel word, is Emo Adams, Ray Dylan, Monique, Sarah Theron, Gerrie Pretorius en Wicus van der Merwe.
Die SA Polisiediens se berede-afdeling sal ook weer vanjaar teenwoordig wees, terwyl vertonings by die feesterrein asook statiese uitstallings aangebied sal word. Die SA Polisie-orkes sal op Saterdagaand, 1 Februarie 2014, saam met verskeie gemeenskapsblaasorkeste in die Harry Giddeypark optree.

Die program sluit weer ‘n motorsportgimkana, ‘n straatparade en rubberbootwedrenne in.  Daar sal ‘n biertent wees, en moontlik ook ‘n uitstalling van veteraanmotors en trekkers. Sowat 100 stalletjiehouers word weer by die fees verwag.
Die fees word deur die Mosselbaaise Munisipaliteit gekoördineer, en aangebied om die dorp te bemark en die plaaslike ekonomie te help stimuleer gedurende die stiller tye van die jaar. Die volledige program sal binnekort bekendgemaak word, en ook op die feeswebblad, www.mosselbayevents.co.za bekendgemaak word. •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *