MUNISIPALITEIT KRY DERDE SKOON OUDIT

Die Mosselbaaise Munisipaliteit het ‘n skoon oudit vir die 2014-boekjaar behaal, die derde agtereenvolgende jaar dat die Munisipaliteit die prestasie behaal het. Dit plaas Mosselbaai ook onder net vyf persent van 278 plaaslike munisipaliteite in Suid-Afrika om drie of meer agtereenvolgende skoon oudits te behaal.
“Ons as Raad is absoluut verheug oor hierdie uitsonderlike prestasie. Baie min mense besef watter prestasie dit werklik is om ‘n skoon oudit te kry. Dit beteken baie meer as net dat die Munisipaliteit se finansiële sake in orde is. Die Ouditeur-Generaal se oudit sluit ook oudits ten opsigte van die voldoening aan finansiële en nie-finansiële wetgewing asook die implementering van verskillende bestuurstelsels in.
“Die prestasie getuig van die gehalte van die Munisipaliteit se bestuurspan en personeel, en die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz, en haar span moet gelukgewens word met ‘n derde agtereenvolgende skoon oudit. Dit is harde werk, en verg bestuur van die hoogste gehalte,” het die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira gesê.
‘n Munisipaliteit kan een van vyf oudit-opinies, van baie goed tot baie sleg, van die Ouditeur-Generaal kry, naamlik ‘n ongekwalifiseerde oudit sonder enige ander sake (‘n skoon oudit), ‘n ongekwalifiseerde finansiële oudit met beklemtoonde sake, ‘n gekwalifiseerde oudit (opinie kan nie gegee word oor die finansiële state in hul geheel nie weens onreëlmatighede of onakkuraathede), ‘n afwysing (‘n opinie kan nie gegee word nie oor die finansiële state in hul geheel nie omdat die state nie voldoende voltooi is nie), en ‘n negatiewe opinie omdat die finansiële state nie ‘n korrekte weerspieëling is van hoe die munisipaliteit sy finansies bestuur het nie). •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *