‘N UITTREKSEL UIT DIE BOEK “SANAE 15”

Die 15de S.A Nasionale Antarktiese Ekspidisie na Antarktika ( Deel 5 )

016

Die skeur waarin ek geval het met die yspik wat my lewe gered het
My liggaam, arms en selfs vingers is duidelik afge-ets in die sneeubrug.

 

 

Donderdag 21 Februarie 1974. Ons bereik Muskeg-depot laataand, nadat ons heeldag weens die diep sagte sneeu en voertuie wat die heeltyd vasgeval het, gesukkel het om al die slees in twee heen-en-weer reise tot by ons bestemming te kry.

Na so ‘n dag is ons doodmoeg en bitter honger. Elke aand smul ons aan dieselfde ete – ‘n groot bord Tastic-rys met elkeen sy eie blikkie vetterige bully beef bo-op – hoe vetteriger hoe lekkerder! Ons het ‘n ewigdurende lus vir vetterige kos en soetgoed – ons eet ‘n blok sjokolade soos ‘n toebroodjie – slegs ‘n paar happe en dit is op! As iemand so gaaf is om vir jou van sy blok sjokolade aan te bied, is ‘n aanvaarbare porsie die helfte van die blok – dit staan later bekend as ‘n standard portion!

Ons sluit die aand af met Wimpie wat met die CAT in ‘n groot ysskeur vasval en ek en Johan sien hoe ‘n tweede skeur agter ons oopval – maar dit is môre se probleme en alles kan vir eers wag. Ons parkeer die voertuie op ‘n veilige afstand, sowat 75 m van die CAT en die skeure af.

Vrydag 22 Februarie 1974. Almal gaan verken eers die CAT in die skeur, neem foto’s en beraam planne om dit daaruit te kry. Dit is ‘n benarde situasie – die CAT hang letterlik in die lug! Aan die agterkant is dit net die stroppe wat aan die slee vas is wat verhoed dat dit na benede tuimel. Aan die voorkant druk die CAT slegs met een rusperband teen die oorkantste wal vas. Hoe nou gemaak? Sowat 3 m dieper af in die skeur is ‘n tweede brug. Ons maak beurte om met ‘n reddingsleertjie af te klim tot op die tweede brug en van onder foto’s van die ‘vlieënde’ CAT te neem – almal is beïndruk met die ‘aksie’-foto’s wat ons kan neem.

My film is skielik op en ek draf-stap terug na die caboose in die verte om nog ‘n film te gaan haal. Ewe skielik maak die aarde onder my oop – in ‘n oogwink het ‘n maneater my ingesluk en hang ek net soos die CAT tussen hemel en aarde!
‘n Tweede brug, sowat 2,5 m verder af in die skeur, het my val gestuit! Skielik besef ek wat gebeur het – daar was nie eens kans vir ‘n hulpkreet nie. Reg bo my is die klein opening waardeur ek geval het – die brug was minder as 10 cm dik. In die opening is die buitelyn van my lyf en arms wat ek in ‘n refleks-reaksie sywaarts uitgestrek het om my val te stuit, duidelik sigbaar. Selfs my uitgestrekte hand en vingers is afgeëts. Ek hoor voetstappe en verwag dat iemand my te hulp gaan snel en enige oomblik deur die opening na benede gaan kyk. Dan besef ek dit is my hart wat so in my borskas klop – niemand het gesien toe ek inval nie!
Volgende besef ek dat my lyf stadig besig is om deur die tweede brug afwaarts te gly. Ek forseer my knieë en stewels teen die sywande om my beweging te stop. Skielik besef ek dat ek steeds my yspik krampagtig in my hande vasklou waar my uitgestrekte arms op die brug voor my druk. Die yspik is my redding! Genadiglik is die skeur ‘n paar cm smaller as die lengte van die yspik en ek steek die yspik dwars in die vertikale wande van die ysskeur in. Ek verplaas my gewig oor na die yspik en kan dadelik voel dat ek nou geanker is en nie verder afgly nie.
Nou moet ek vinnig aandag trek. As dit donker word sal my maats my met moeite opspoor. Ook kan die wind opkom en oornag sal die jagsneeu die opening weer vinnig verseël. Nou is dit tyd vir kophou en kalm bly, ou maat, praat ek met myself!
Eers probeer ek skree, so hard as wat ek kan, maar die klank dra nie na buite toe nie, dit is tevergeefs. Volgende probeer ek my bloedrooi kopmussie, wat my Ma nog vir my as ‘n geskenk gebrei het, by die opening uitgooi – dit sal dadelik op die oppervlak aandag trek, dink ek, maar die opening is net buite bereik en die mussie val agter my verby en tuimel die donker dieptes in na benede. Vir die eerste keer besef ek dat die hele brug agter my ingetuimel het en dat daar geen brûe agter my of verder af in die skeur is wat ‘n val sal kan stuit nie!
Daar word beweer dat skeure oor die algemeen nie dieper as sowat 60 – 100 m is nie, want op daardie diepte is die ys elasties weens die druk van bo en sal saamvloei.

Ek het ‘n dubbele paar handskoene aan en probeer eers die tweede paar een vir een by die opening uitgooi – ook dit word, sonder sukses, deur die donkerte ingesluk. Ek oorweeg volgende om my kamera te probeer uitgooi; dit het darem meer gewig en sal verder gewerp kan word – maar as dit misluk sit ek sonder ‘n kamera vir die res van my Pool-ervaring. Nee – dit is darem net te riskant! Tydens al hierdie gebeure skree ek af en toe in die hoop dat iemand tog naby verby loop en iets hoor. Maar tevergeefs.

As ek myself stadig aan die yspik kan optrek en myself staande kan maak bo-op die yspik, sal ek moontlik my arms oor die rand van die skeur kan gooi en myself uittrek … redeneer ek. Desperaatheid begin my beetpak. Ek besluit om dit te probeer, maar besef dat ek alles op die stabiliteit van die yspik waag – as dit uitgly, is dit tickets, lights out, kamera, yspik en al. Angs en ‘n oorlewingsdrang dryf my en ‘n paar minute later staan ek katvoet bo-op die yspik – maar helaas, my uitgestrekte hande is nog steeds sowat 30 cm onder die oppervlakte. Ek oorweeg om te spring en die rand te gryp, maar kan dit nie waag nie,want die pik sal verseker nie in posisie bly nie en ek het geen waarborg dat ek ‘n greep op die rand van die skeur sal kan kry nie.

Met my kop nou so na aan die opening, begin ek weer en weer te skree – nou dra die klank darem na buite. Ek neem een van my tweede stel geel handskoene en gooi dit versigtig deur die opening en vang dit weer, oor en oor herhaal ek die proses, terwyl ek onophoudelik skree.

Drie van my maats was nog besig by die CAT toe hulle hierdie snaakse gedempte geluide hoor. Wimpie sien skielik die snaakse geel voorwerp wat asof uit die ysoppervlak die lug in trek en dan weer in die ys verdwyn … wat op aarde, wonder hy en stap baie skepties nader. By die opening gekom, is sy verbasing groot om my daar in die skeur aan te tref. Wimpie buk af, gryp my uitgestrekte arms vas en trek my uit op die oppervlakte. Wat ‘n verligting om weer terra firma onder my voete te voel!

Eers later in my lewe besef ek met dankbaarheid hoeveel dinge daardie dag in my guns verloop het. As daar nie ‘n tweede brug was nie … as ek nie die yspik by my gehad het nie … as die skeur wyer as my yspik was … as die yspik nie stewig genoeg in die wande van die skeur geanker kon word nie … en as Wimpie en sy twee makkers nie binne hoorafstand van my was nie …? Ek glo my Beskermengel het daardie dag oortyd gewerk!

( vervolg…. )

5

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *