Tag: Wedding Planning

Beplan ‘n Troue Deel 3

UITNODIGINGS / DVD/ FOTOS

HotPink_Black_White_Brocade_Damask_Pocket_Wedding_Invitation (1)

UITNODIGINGS:
Trou-uitnodigings skep die eerste indruk van julle spesiale dag en eerste indrukke is blywend.

Die kaartjies moet julle troue se tema, styl, kleur ens. uitbeeld.
Die perfekte uitnodiging behoort julle individuele styl, persoonlikheid en sak te pas.

Om julle besluit te vergemaklik kan julle ‘n afspraak met ‘n verskaffer of drukker maak om te help om julle uitnodigings uniek te maak.

Hulle sal ook raad gee oor die kaartjie se bewoording.

Die kaartjies moet betyds klaar wees om 6 – 8 weke voor die RSVP datum uitgestuur te word.
Proeflees eers en maak seker dat datums, plekke, telefoonnommers en spelling van die name korrek is.

DVD:
Jou troudag is vol emosie, spesiale, kosbare oomblikke en betekenisvolle formaliteite.
Sonder ‘n DVD is al die kosbare oomblikke vir altyd verlore en sal jy niks daarvan kan herleef nie.

Bruidspare is bewus van die waarde van foto’s en is bereid om baie geld te betaal vir perfekte foto’s, maar wanneer dit kom by ‘n video-opname van die troue, is daar dikwels nie genoeg geld in die begroting wat dan beteken dat ‘n vriend of familielid dit doen, as ‘n “trougeskenk”. Aangesien hulle ook genooide gaste is, wil hulle ook saam met die ander kuier, en die gevolg ‘n afgewaterde DVD.

Onthou dat ‘n foto ‘n oomblik in tyd vasvang, en ‘n DVD, die beweging en emosie van die oomblik vasvang, met die bonus van klank daarby.

Vandag se hoë gehalte videokameras laat jou toe om ook foto’s van jou DVD te laat druk. So as iets skeefgeloop het met die foto’s, of as die fotograaf nie ‘n spesifieke oomblik vasgevang het nie, kan jy foto’s van die DVD laat maak.

Indien jy wel besluit om van ‘n professionele videograaf gebruik te maak, doen sorgvuldig navorsing en maak ‘n ingeligte besluit.

Redigering van die DVD moet smaakvol gedoen word. Van die oomblik wat jy begin aantrek tot en met die laaste dans.

Die beeld, spesiale effekte en keuse van musiek moet vloeiend en indrukwekkend wees.
2. Dit is noodsaaklik dat die videograaf en sy assistente goed geklee is – hulle verteenwoordig jou voor jou familie en vriende.
Drade moet nie ‘n veiligheidsrisiko inhou nie en moet esteties aanvaarbaar wees.

FOTO’S:
‘n Foto vang jou troudag se kosbare oomblikke en detail vir altyd vas, sodat jy dit jare later steeds kan geniet en herleef.

Daar is ongelooflik baie fotograwe in die mark beskikbaar, elkeen met sy eie unieke styl en manier van werk. Bestudeer web-tuistes en doen moeite voor jy ‘n kortlys maak van die fotograwe wie se styl pas by die soort foto’s wat jy graag sal wil hê.
Dit is uiters belangrik dat jy die fotograaf ontmoet voordat jy hom/haar vir jou troudag bespreek.
Hy/sy is vir die duur van die troudag saam met julle en daarom moet julle gemaklik wees met mekaar en seker maak jul persoonlikhede bots nie.

Maak seker van die volgende:
• Watter pakkette is beskikbaar en kostes verbonde.
• Betaling en deposito’s.
• Ervaring.
• Het die fotograaf ‘n alternatief beskikbaar indien iets onvoorsiens met hom gebeur?

Beplan ‘n Troue

wedding-rings-wallpaper1

Deel 1 ‘n Troubegroting
Die belangrikste prioriteit nadat ‘n paartjie verloof geraak het, is om ‘n begroting op te stel. Die begroting moet al die kostes van die troue insluit.

Stap-vir-stap-riglyne
• Bepaal eers hoeveel geld julle het. Vind uit hoeveel geld die onderskeie ouerpare bereid is om te bestee, indien enige. Stel vas of die bruid se ouers volgens tradisie vir die onthaal gaan betaal en die bruidegom en sy ouers vir die drank en die wittebrood. Koste kan ook eweredig verdeel word tussen die ouers en bruidspaar. Wees altyd dankbaar en spreek julle waardering uit teenoor jul ouers vir hulle bydraes, hoe gering dit ookal mag wees.
Noudat julle weet, spring weg met ‘n beplanningsessie waarby almal wat ‘n bydrae gaan maak, betrokke is.
• Besluit eerstens waste soort troue julle wil hê (formeel, strandtroue, plaastroue,
markiestenttroue, tuintroue ens.)
• Bespreek dan tema, dekor, kleur, kos, musiek, kleredrag ens.
• Stel ‘n volledige lys op van behoeftes bv vermaak, fotograaf, dvd, platejoggie of orkes, huweliksbevestiger.
• Open ‘n spesiale rekening om al die beskikbare fondse in te betaal, asook jul maandelikse spaargeld. Neem in ag die totale koste vir ‘n gemiddelde troue in SA beloop tans tussen R70 000 – R80 000 vir 80 tot 100 persone. (Koste per persoon R700 – R800). Vir bogemiddelde troues R1 500 – R2 000 per persoon.
Begroot liefs 10 – 15% meer as die basiese begroting vir onvoorsiene uitgawes.
• Bepaal ‘n troudatum
• Vind ‘n venue volgens jul behoeftes.
• Indien julle ‘n troubeplanner gaan gebruik, maak heel eerste met haar ‘n afspraak.
• Kry skriftelike kwotasies by al jul diensverskaffers en maak seker dat die kwotasie alles insluit waarvoor julle vra. Lees die voorwaardes deeglik deur voor julle dit teken en deposito’s betaal.

Riglyne vir die verdeling van die begroting
• Onthaal (venue-koste, kos en drank) 50% vd totale begroting

• Trourok, uitnodigings, fotos, dvd, musiek, blomme, kerse, koek, geskenkies, dekor, liggies en koördineringsfooie50% vd totale begroting

Bestuur van jul begroting
Om ‘n begroting goed te bestuur is uiters belangrik vir die sukses van jul troudag.

Riglyne – Wie betaal vir wat?
Bruid se ouers:
• Trourok en bykomstighede vir die bruid
• Uitnodigings
• Venue koste (huur, kelners en oortyd)
• Kos
• Troukoek
• Blomme en dekor
• Fotograaf en videograaf
• Musiek vir kerk en onthaal
• Troukar

Die Bruid:
• Hare, grimering, skoonheidsbehandeling
• Trouring vir die bruidegom
•Geskenke vir almal wat iets spesiaals vir haar gedoen het.

Bruidegom en sy ouers:
• Verloof- en trouring vir die bruid
• Trougeskenk vir die bruid
• Bruidegom se uitrusting
• Alle hand- en skouerruikers
• Geskenkies vir gevolg
• Huwelikskontrak
• Drank en kroegkostes
• Alle kostes ten opsigte van die kerk, predikant, koster, kerkfooie, orrelis ens.
• Vervoer vir hom en die strooijonkers na kerk en venue
• Wittebrood en reiskostes.

 

Deel 2 – DIE HUWELIKSEREMONIE/ HUWELIKSBEVESTIGER/ NODIGE DOKUMENTASIE/ KONFETTI

Huwelikseremonie:
Terwyl die gaste sit en wag vir die bruid kan hulle luister na goeie rustige musiek.
‘n Bruilof behoort plegtig en onvergeetlik te wees met gepaste musiek, plante en blomme as inspirasie vir almal.
Maak seker wat is toelaatbaar vir versiering in die kerk bv kerse en klein ruikers teen die kerkbanke, al langs die paadjie af.

Die gebruik van’n kapel by die trouvenue het die voordeel dat dit gerieflik binne stap-afstand van die onthaalarea is en dit verkeer asook die soek na parkering uitskakel.

Die ma van die bruid kom 5 minute voor die bruid binne en gaan sit links voor.

Die bruidegom staan voor in die kerk en wag vir sy bruid. Hy staan regs van die bruid.

Die bruid se pa bring haar in, lig haar sluier, soen haar op die voorkop, en met ‘n handdruk aan die bruidegom gee hy haar af. Hy neem dan stelling in langs die bruid se ma.

Indien die ouerpaar geskei is, kan die pa in die volgende ry langs sy tweede vrou gaan sit.
Sy vriendin, of die vriend van ‘n alleen loper ma speel, as ‘n reël, nie ‘n rol nie en kom nie in aanmerking vir die troufoto’s nie.
Dokumentasie:
•Huwelikskontrak – Opgestel deur ‘n regsadviseur en behoorlik onderteken.
(Die aanwasbedeling is ‘n gewilde keuse).
• Geskeides se finale egskeidingsbevel of ‘n afskrif.
• ‘n Weduwee of wewenaar moet die oorledene se doodsertifikaat hê.
• Albei se ID dokumente.
• Albei se mediese sertifikate(wat ter wille van versekering soms benodig word).
Organiseer ‘n proeflopie die dag voor die troue om te verseker alles verloop seepglad.

Na die teken van die huweliksregisters deur die predikant, bruidspaar en getuies kan iemand, of al die gaste hulle toesing.

Die gaste stap na buite, kry konfetti warmee die bruidspaar bestrooi word as hulle uitgestap kom, gevolg deur die blomme- en strooimeisies, en die strooijonkers, elk regs van ‘n strooimeisie. Daarna volg die ouerpare.

Huweliksbevestiger:
Die keuse van ‘n geskikte huweliksbevestiger is een van die belangrikste aspekte van enige troue se beplanning – buiten die feit dat hy oor die nodige kwalifikasies moet beskik. (Maak seker dat die huweliksbeampte ‘n lisensie en ‘n geldige aanstelling deur die Departement van Binnelandse Sake het om die huwelik te mag voltrek).
Indien die bruidspaar verkies dat die seremonie deur ‘n vriend of familielid gelei word, kan hulle ‘n gelisensieerde huweliksbeampte nader om die wettige deel van die huwelik te voltrek.

Die bruidspaar moet ‘n huweliksbevestiger kies by wie hulle albei aanklank vind en mee gemaklik voel.

Dit is die bruidspaar se keuse hoe formeel, tradisioneel, godsdienstig, informeel of ontspanne die seremonie moet wees. Humor en interaksie tussen die paartjie, die gehoor en die huweliksbeampte help baie om die senuwees te kalmeer en dra by om die seremonie genotvol te maak.

Waar kan jy ‘n geskikte huweliksbevestiger vind ?
As die bruid en bruidegom nie aktief by ‘n kerk betrokke is nie of aan verskillende denominasies behoort kan hulle ‘n interkerklike huweliksbevestiger nader.
•Vra vriende
•Troukoördineerders
•Trou- en onthaalvenues
•Vra jou pastoor/dominee
•Internet/Google

Konfetti:
Konfetti simboliseer oorvloedige reën van seën.
Tradisionele gebruike was die strooi van roosblare en vere-konfetti. Wit duiwe kan vrygelaat word of met ‘n bietjie kreatiwiteit kan hierdie deel van die troue ook baie spesiaal wees.

Julie Retief