Van die redaksie

Wie van ons se pad het nog nie met dié van ‘n “padvark” en padwoede gekruis nie ?
Die meeste van ons het ‘n storie om te vertel.

Party mense het net eenvoudig altyd ‘n aggressiewe bestuurstyl. Hulle is nooit verkeerd en kan of maak nooit self foute op die pad nie.
Maar waag jy dit, of waag dit selfs net om te stadig na sy sin te ry of te stadig uit sy pad te kom en hy is reg om jou aan te vat.

Om by die spoedperk te probeer hou is amper onmoontlik. Jy word behoorlik van die pad gedwing, gedruk, gestoot want, die uwe is haastig en wil verby.
Of jy kom vinnig uit hul pad of hulle steek jou verby op sperstrepe, teen blinde hoogtes of draaie of hulle gaan so naby aan jou verby dat dit jou bang maak.

Na so ‘n insident het ek net weereens besef ons paaie is lewensgevaarlik en kanse waag is onverantwoordelik en plaas menselewens in gevaar.

Bly kalm, want deur tekens, gebare, ligte flikker of om op jou toeter te lê vererger net alles met padwoede dikwels die gevolg. (Dis net stop, slaan, skel of …selfs skiet.)

Dan kry ons weer die persoon wat afgetree of met vakansie is en die wêreld se tyd het. Die spoedperk is 80 maar hulle r y so 60 of selfs stadiger in ‘n enkelbaanpad (onmoontlik om verby te steek), terwyl hulle rustig gesels en rondkyk.
Daar is ook dié wat in die vinnige baan ry en vergeet van die reël “hou links”. Of jy nou 120 kmpu ry of nie, hou links vir vinniger voertuie wat wil verbysteek.

Dit is nie net frustrerend, maar dit verg die uiterste inspanning om nie ook kop te verloor en self soos ‘n “padvark” op te tree of te reageer nie.

Maar almal van ons maak soms foute, so wees ‘n geduldige, bedagsame padverbruiker en hou by die reëls en padwette

Erken jou fout met ‘n glimlag en ‘n verskoning want dit sê soms meer as al die lelike tekens en skellery.

Julie Retief

editor@mossview.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *