VERKLARING DEUR UITVOERENDE BURGEMEESTER: PETROSA-PROJEK

‘n Hele paar briewe het onlangs wéér in die pers verskyn rakende die beplande projek van PetroSA om vloeibare aardgas (VAG) in te voer. Enigeen is natuurlik geregtig om hul standpunt rugbaar te maak.

Omdat die PetroSA-aansoek nog ‘n láng pad het om te loop, doen ek ‘n beroep op almal om nie voortydig te reageer nie. Die aansoekproses bied geleentheid tot deelname en dit kán onbelemmerd benut word binne die gestruktureerde proses wat ruimte bied vir vrae, antwoorde en insette.

Dit is belangrik dat die gemeenskap van die HELE groter Mosselbaai se belange in ag geneem word. PetroSA is die dorp se grootste werkverskaffer, en is ook afhanklik van die invoer van gas vir sy voortbestaan in Mosselbaai. Dit sal eenvoudig ‘n ramp wees as die besigheid sy deure moet sluit.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die sukses al dan nie van die PetroSA-aansoek, nie onderhewig is aan enige Raadsbesluit nie. Dit blyk in elk geval dat die projek op land van bestaande strukture en pypleidingsroetes gebruik sal maak, en dat die Raad se toestemming gevolglik nie daarvoor benodig sal word nie.

Daar kán geen twyfel oor die ekonomiese belang van die projek vir die plaaslike ekonomie wees nie.
Dit is werklik belangrik dat emosies nie nou opgesweep word, of toegelaat word om op hol te gaan nie terwyl daar nog so baie onbeantwoorde vrae is wat hopelik deur die omgewingsimpakstudie beantwoord kan word.

H. Hill•

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *