KONSTITUSIONELE HOF BESLIS TEEN LUTHERSE KERK

Die Konstitusionele Hof het die Evangeliese Lutherse Kerk van Afrika se aansoek om te appelleer teen die beslissing van die Appèlhof ten gunste van die Mosselbaaise Munisipaliteit in verband die eiendomme waarop die bouvalle van die voormalige Friedrich Scheffler-skool in Uitbreiding 6 geleë is, van die hand gewys.

Volgens die Konstitusionele Hof, is die aansoek verwerp omdat dit geen kans op sukses het nie.

Die Appèlhof te Bloemfontein het in Mei 2013 ten gunste van die Munisipaliteit besluit in verband met die geldigheid van ‘n terugvalklousule ten opsigte van die twee eiendomme in Roselindstraat. Die eiendomme is deur die destydse Mosselbaaise Munisipaliteit aan die kerk oorgedra op voorwaarde dat dit vir opvoedkundige of kerkdoeleindes gebruik sal word, en onderhewig daaraan dat die eiendomme na die Munisipaliteit sal terugval indien dit nie langer vir dié doeleindes gebruik word nie.

Die skoolgebou het in die laaste paar jaar in onbruik geraak, en in so ‘n mate verval dat dit nie meer bruikbaar is nie. Dit het ‘n skuilplek vir ongewensde elemente geword. Nadat geen versekering van die Lutherse Kerk verkry kon word dat die gebou herstel of gesloop sal word of vir skool- of kerkdoeleindes heraangewend sal word nie, het die Munisipaliteit hom op die terugvalklousule in die kontrak tussen die kerk en die Munisipaliteit beroep.

Die Kaapse Hoërhof het in 2010 ten gunste van die Lutherse Kerk besluit dat die eiendomme nie na die Mosselbaaise Munisipaliteit moet terugval nie. Die Munisipaliteit het besluit om appèl teen die uitspraak aan te teken omdat dit groot getalle eiendomme aan kerke vir kerkdoeleindes beskikbaar gestel het en steeds beskikbaar stel, en dit ‘n onhoudbare presedent sou skep indien kerke die eiendomme vir ander doeleindes kan gebruik as waarvoor dit aan hulle toegeken is.

Die eiendomme sal nou na die Munisipaliteit terug getransporteer word. ‘n Besluit is nog nie geneem hoe eiendomme aangewend sal word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *