Musings – Begranis op Eendracht

Begrafnisse is sekerlik uit die aard daarvan nie aangename gebeurtenisse nie. Nooit nie. Selfs al is dit my grootste vyande wat “gebêre” word, is daar geen vreugde in nie (laasgenoemde seker omdat ek nie by is nie…)
Maar begrafnisse op die familieplaas is anders. Dit is nie net afhandeling van ‘n roetine nie – nee, dit is héél maak, gesondmaak – en as jy na die begrafnis by die plaashek uitry en die grootpad vat na waarvandaan jy ook al gekom het, dan is die vredigheid al amper waar dit moet wees.
Maar kom ek begin heel voor, verduidelik….
Kyk, die familieplaas daar in die Koo is eintlik nie familieplaas in die algemene sin van die woord nie. Dit behoort NIE aan die familie nie – dit is Neef s’n, en hy kyk goed daarna en versorg dit baie mooi. Maar dit is familieplaas in die sin dat dit is waar Pa grootgeword het, Oupa en Ouma nog elke aand by hierdie einste bidtafeltjie gesit en aandgodsdiens gehou het. En dit is waar ons almal voel ons gebêre wil wees die dag as ons die tentwoning hier afbreek om anderkant die groot Dal van Skaduwee ‘n meer permanente en duursame woning te loop betrek.
Miskien is dit die rituele; of eintlik ook nie – daar is nie veel rituele nie, eerder net ‘n paar dinge wat deur die jare so ingegraveer geword het dat dit voel asof dit so hoort.
Soos dit maar al die jare was – en g’n mens kan my anders vertel nie! – was begrafnisse maar nog altyd die groot geleenthede waar verlangse familielede mekaar weer gesien het. Selfs ‘n bruilof en ‘n doop kan nie daarby kom nie. In die ou dae was die afstande te ver en die reistye te lank. En daar was maar altoos ‘n oestyd of saaityd of een van die seisoene wat in die pad gekom het van ‘n bruilof of ‘n doop. Maar dood en begrafnis was maar nog altyd anders, as sou ons op grond van ons skuldgevoelens oor ons vir die afgestorwene so min van ons tyd gegee het, miskien bietjie boetedoening wou laat kristalliseer. En dan gaan ons begrafnis toe.
Ook deserdae is begrafnisse maar die enigste wat ons bybring oor ons nie laasjaar se Kersfees kon bybring nie, of ‘n paar jaar terug ‘n geleentheid laat glip het om te kom kuier…
Ewenwel, by die begrafnis sien ons mekaar almal. En die weersiens, hoewel gedemp voor die diens, is tog gemaklik, en ons herken mekaar darem nog. En die stille handdruk, die omhelsing met effe mistige oë, die half hartseer glimlagte – als is deel van die uiting van ons hartseer-bly weersiens.
Die diens – soms in die skuur gehou, ander kere op die dorp so 40km van die plaas af – is altyd erg tradisioneel met naaste familie wat nie opstaan om te sing nie, wat almal bymekaar sit heer voor, wat laaste inkom as almal reeds hulle plekke ingeneem het – want almal moet sit en wag vir die naasbestaandes om soort van eer en respek te betoon deur hulle gemaak eerbied te betoon. Want almal was al daar, en weet hoe dit voel.
Na die diens ry die lykswa na die kerkhof op die plaas. En so 30 meter van die kerkhof se hek, parkeer die lykswa sodat die draers darem ‘n entjie het om te dra. Want sien, die dra is deel van die proses, deel van die groet en die afskeid neem. Want aanstons sal ons die een nie meer by ons hê nie, sal hy onder die kluite agterbly en ons sal uitvind dat ons wel alleen kan voortgaan.
Die formuliere word gelees, die gesange word gesing – en ons kan sing, selfs so tussen die trane deur… En dan word die kis laat sak, sommer met kiskrans en al – ons het nie waarde aan ‘n rangskikking om ons aan die leë plek te herinner nie. En dan kom die groot afskeid.
Die kis word nie met betonblokke gedek voor die graf gevul word nie. Nee, ons glo aan die rou klanke van kluite op die kis, soos dit in die pragtige alliterasie in die laaste strofe van Die Stem gegee word. En hier is nou die ingegraveerde gebruik…
Die graf word toegemaak deur die begrafnisgangers self. As die laaste blaartjies gestrooi is, en die laaste handjie vol grond gegooi is, dan staan die verste familie en die kennisse eenkant. Van die plaasmense stap stadig huis toe, om solank die ketels te gaan aansit want daar moet koffie wees. En die grawe wat daar teen die heining staan, die word nader gebring.
Eerste voorreg is die naaste, heel naaste familie: Kinders, skoonfamilie. Baadjies word uitgetrek, en die potklei klonte word opgeskep en in doodse stilte langs die kis afgegooi – eers word die kant volgemaak, dan by die voetenent tussen die kis en die wand van die graf. Kopkant ook – mooi netjies opgevul. En hier en daar val ‘n verdwaalde kluit met ‘n hol plof op die kis. En dit is amper asof dit nie so moet wees nie, want dis dan iemand wat daar lê…. Die werk word in stilte gedoen, elkeen besig met sy eie hartseer, versoening, en sukkel met die realiteit van afskeid.
Dan, as die kante nou mooi opgevul is tot gelyk met die kis, dan het die hele paar verdwaalde, hol plofgeluide die gevoel al genoeg afgestomp dat die vol grawe nou al op die kis self kan land. En die kiskrans verdwyn eerste so stadigaan onder die kluite – die krans self demp die hol klanke.
“Maak bietjie mooi warm toe daar by die voete, daar is nog ‘n holtetjie…” – Gawie wat aandui en leiding neem. Want die graf moet mooi solied toegegooi word.
Wanneer die kis heeltemal onder die kluite verdwyn het, is dit asof daar so ‘n bietjie verligting in die swaarmoedigheid kom. Sweet slaan uit by die kieliebakke, moue word verder opgerol, en party asems jaag. “Mens kan sien party mense is meer gewoond penne stoot as graaf gooi…” kom die ligte treitering. Glimlagte oraloor want ja, dis duidelik party se skep-en-gooi tempo neem effens af. “Ja, maar ek weet van party graafstoters wat nie Jan Taks se pampiere kan invul nie en hulle vrouens moet vra om dit te doen” kom die ligte stekie terug. En dis al asof die gemoed ligter raak, die rou en hartseer effe verdamp hoe hoër die grond op die kis word….
Dan neem iemand van die effe verder familie die graaf oor by een van die wat besig is; teken vir die volgende naaste familie om oor te vat, en verder aan die eer te deel. En so by so word die grawe oorgeneem, en die graf word voller. En die voller graf maak die stukkend heel, algaande.
Die latere groepe gooi elkeen ‘n paar grawe, as deel van die praktyk om te groet – en om in die proses ook bietjie heel te word. Heel laaste is die plaasarbeiders wat ook die afgestorwene geken het, dalk nog saam gespeel het en gewerk het….
Op die end, as die graf boordenstevol is, word die graf “opgemaak” – mooi netjies met die agterkant van die grawe geklop totdat dit mooi eweredig lê. En al die kranse word mooi netjies gepak, naamkaartjies afgehaal – en die stap terug na die opstal begin. Koffie en tee en broodjies deur die susters word in die waenhuis bedien. En die stap, soms alleen, ander kere in geselskap van iemand naby, is ook héélword….
Die traagste stapper terug van die kerkhof af is die een met die grootste hartseer. En leer so, met die terugdraal waenhuis toe, ook om stadigaan op te kom vir lug, en die hartseer te verwerk.
Naaste familie kuier die langste – al is die pad huis toe lank. Want almal weet, as die koffie gedoen is en die ander vertrek het, gaan ons woonkamer toe. Daar sal iemand ‘n bottel van die beste wyn iewers uitkrap, en ons sal almal saam ‘n glasie klink op le chaim- die LEWE – omdat ons weet ons elkeen se beurt kom, en ons beter elke druppeltjie uit die lewe haal…. • Jacques Valjean
Die grondpad van ‘n paar kilometer bring jou by die teerpad wat teruglei na die werklikheid en die lewe sonder nog een wat naby was. Maar die begrafnis self, was al groot deel van die gesondmaak. En die lewe gaan aan.
Le chaim – op ons wat nog hier is….

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *