KFC KRIEKETFEES WEER STEUNPILAAR VAN SPORTFEES

Die hoogs suksesvolle KFC Punt Krieketfees sal vanjaar weer een van die steunpilare van die jaarlikse Mosselbaaise Sportfees wees. Die krieketfees is nie net een van die oudste krieketfeeste in Suid-Afrika nie, maar is die grootste in Afrika.
Die Mosselbaaise Sportfees word deur die Munisipaliteit gekoördineer om die plaaslike ekonomie te stimuleer en ‘n gesonde leefwyse aan te wakker. Daar sal na raming vanjaar weer ongeveer dertig verskillende sportbyeenkomste tydens die amptelike sportfees van 3 Oktober 2014 tot 7 Oktober 2014 gehou word.
Dit is ‘n kenmerk van die fees dat individuele sportkodes- of – liggame hul eie byeenkomste aanbied, en dat die Munisipaliteit logistieke hulp verleen asook die fees oorhoofs bemark. Soos verlede jaar sal die fees onder meer nasionale seiljagkompetisies, skaatsplankrenne, raakrugby en ‘n motorsportgimkana insluit.
‘n Mosswalk-pretstap asook ‘n hondeskattejag sal deel vorm van die fees, en ‘n gedeelte van Marshstraat sal op die Saterdag vir die gebruiklike feesstraatparty gesluit word. Lewendige musiek en stalletjies sal deel van die straatparty wees.
Die KFC Punt Krieketfees, wat vanjaar van 3 Oktober 2014 tot 7 Oktober 2014 plaasvind, het reeds inskrywings van 32 spanne uit die WP, Boland, SWD, Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng en Namibië gelok. Tydens die fees sal altesame 61 wedstryde op 16 velde in Mosselbaai, Groot-Brakrivier, Riversdal, George en Oudtshoorn gespeel word.
Die eerste wedstryd van die krieketfees sal op Vrydag, 3 Oktober 2014, op die Van Riebeeck A-veld gespeel word tussen die Hoërskool Punt en die Hoërskool Bellville. Die fees sal dieselfde aand amptelik geopen word, terwyl die Hoërskool Punt se o.19 A- en o.15 A-spanne die vorige aand by ‘n glansgeleentheid bekendgestel sal word.
Meer inligting oor die Sportfees kan van die Kantoor van die Munisipale Bestuurder by (044) 606-5003 of (044) 606-5193 of per e-pos by admin@mosselbay.gov.za verkry word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *