Die 20 beste dinge vir jou huwelik

“Trou is nie perde koop nie …” Verseker! Egskeiding syfers skiet die hoogte in, en al hoe minder mense doen die moeite om die sakke sout saam op te eet. Hier is die geheime wat jy moet weet …

JOU GESONDHEID IS BELANGRIK
Glo dit of nie, maar jou gesondheid speel ’n groot rol in jou verhouding. Wanneer jy reg eet en oefen voel jy beter oor jouself en gemakliker met jou lyf. Self vertroue gee jou die vryheid om waarlik oop te wees met jou maat, en kan beslis ook julle sekslewe op skerp …

GIGGEL, SPEEL SAAM EN WEES LEKKER LAF
Lag word nie verniet medisyne vir die siel genoem nie. Dis ook medisyne vir jou huwelik! Geniet mekaar en doen prettige dinge saam. Dit hoef nie baie geld te kos nie. Hoeveel keer kyk jy na die romantiese karakters wat mekaar met water bestook terwyl hulle kar was?

GROEI SAAM, MAAR OOK APART
Net omdat julle getroud is, beteken nie julle is aan mekaar vasgeketting nie. Elke persoon het noodwendig tyd alleen nodig. Gee vir hom daardie spasie. Moedig hom aan om saam met vriende te gaan gholf speel, en maak seker jy het nou en dan ’n girls night.

BOU SAAM AAN JULLE DROME
Maak gereeld tyd om saam te sit en droom oor julle toekoms. Soos wat jy ouer word, verander jou drome, en jy sal dalk verbaas wees om te hoor dat hy nie dieselfde dinge wil hê as toe julle getroud is nie. Deel julle hoop en bou saam lugkastele.

LAAT HOM DINK DIS SY IDEE …
Dis baie makliker om iets gedoen te kry wanneer manlief glo dit was sy idee. Ons bedoel nie jy moet hom manipuleer nie, plant net die saadjie en gee tyd vir dit om te groei. Om oor iets te kerm gaan op die ou end net die teenoorgestelde resultaat gee.

SOEK ’N BETROUBARE KINDEROPPASSER
Julle het as ’n paartjie ook tyd saam nodig … sonder die kinders. Reël ’n double date met julle beste vriende en los die kinders by ’n oppasser. Gaan fliek en geniet ’n kerslig ete saam, enigiets. Solank julle tyd maak vir mekaar.

GEBRUIK JULLE EIE GEHEIME TAAL
Wanneer julle by vriende kuier is dit pret om te kommunikeer op ’n manier wat niemand verstaan nie. Deur middel van handdruk syne kan julle gedagtes oordra. “Ek is lief vir jou”, “Is jy reg om te gaan?”, “Jy is net myne”.

BEOEFEN MEKAAR SE STOKPERDJIES
Is jou man dol oor gholf? Hoekom gaan jy nie saam met hom speel nie? Laat hom toe om jou touwys te maak, dit gee hom ’n gevoel van beskerming oor jou. En wie het nou nog nie gesien hoe romanties dit is as hy van agter sy arms om jou sit om jou te wys hoe om te slaan nie …

BAKLEI, MAAR KIES JOU WOORDE REG
Daar is nie so ’n ding dat gelukkige paartjies nie baklei nie. Alle mense verskil een of ander tyd met mekaar. Die kuns is om jou woorde reg te kies. Jou lyftaal in ’n argument bepaal ook baie. Vermy dit om te kritiseer en te verdedig en hanteer konfrontasie eerder met liefde en ’n tikkie humor.

VRYGEWIGHEID BRING ’N GROOT OES IN
Navorsing het bewys dat paartjies wat vrygewig is gelukkiger is in hulle huwelik. So jy kan maar met jou maat deel, vrylik en sonder mate. Maak vir hom koffie in die oggend en doen klein takies wat vir hom belangrik is. Deel maar jou laaste Rolo met hom …

STAAN SAAM IN GELOOF
Ons almal weet die Bybel sê dat ons as getroude paartjie, saam moet loop in geloof. Dit is meer as net kerk toe gaan. Wanneer laas het julle saam gebid, en nie net tafelgebed of huisgodsdiens nie. Bid saam oor julle probleme en lê julle drome in gebed voor die Vader.

AANVAAR DIT WAT JY NIE KAN VERANDER NIE
Getroudwees beteken nie dat jou man vergiet word in ’n nuwe vorm (jou vorm) nie. Dit wat vir jou aantreklik was aan hom, het jou later moontlik begin irriteer. Gee mekaar ruimte om te verskil. Hy hoef nie met jou saam te stem oor alles nie, dis juis wat dit spesiaal maak!

KWEEK ’N DIK VEL
As vroue is ons baie geneig om “redes” vir ons mans se gedrag te sien. Hy is ’n bietjie stil, en jy raak bekommerd dat hy jou nie meer lief het nie. Hier is ’n belangrike tip: as hy sê “niks is fout nie”, glo hom gerus. Sy “niks” is regtig presies dit.

HY HOEF NIE ALLES TE WEET NIE
Die ding dat mense dink daar mag geen geheime in die huwelik wees nie, is ’n mite. Jy mag maar stilbly oor goedjies. Daar is dinge in elke vrou se hart, wat vir haar kosbaar is en niemand seermaak nie. Hou dit gerus ’n geheim. Daar is ’n regte tyd om te vertel.

DANKBAARHEID IS DIE SLEUTEL NA SY HART
Doen moeite om vir manlief te sê wanneer jy iets waardeer wat hy gedoen het. Al is dit sy verantwoordelikheid om elke dag die vullis uit te vat, sê dankie! Begin op let na dit wat hy doen. Mans sê “liefde” om ander maniere. Hy sny die gras omdat hy wil hê jy moet trots wees op julle huis. Sien dit raak.

HOU JULLE UITGAWES FYN DOP
Finansies en die wanbestuur daarvan is seker een van die grootste slaggate wat getroudes in trap. Vind ’n manier wat goed werk vir julle om tred te hou met uitgawes. Beplan saam waarvoor julle gaan spaar en plak sommer prente in julle kamer op om seker te maak julle droom saam.

VERDEEL HUISTAKIES GELYK OP
Is dit ’n man se werk of ’n vrou se werk? Jy voel hy los alles in die huis vir jou, en al wat hy doen is die tuinwerk op ’n Saterdag? Gesels oor die hoeveelheid tyd wat al die huistakies (en tuinwerk) in beslag neem, en verdeel dit regverdig op. Dit help nie om die potte rond te slaan omdat jy “altyd” die kos moet maak nie …

BESPREEK BELANGRIKE SAKE LATER
Daar is ’n rede hoekom die tyd na werk totdat die kinders in die bed is “suicide-hour” genoem word. Maak ’n “reël” dat julle nie in daardie tyd belangrike sake probeer bespreek nie. So word misverstande, frustrasie en rusies vermy. Wag tot die kinders slaap en julle tyd en stilte het.

OPWINDING – DIE RESEP VIR WARM LIEFDE
Voel dit soms of julle huwelik bestaan uit werk, kosmaak, kinders bad en slaap? Probeer iets nuuts as ’n paartjie. Hoe klink danslesse saam of saam perdry by ’n perdeskool in die omgewing. Aktiwiteite wat die adrenalien nog meer aan die gang kry (soos rektouspring) blaas die passie ook meer aan …

WAT VAN HOM IS VIR JOU AANTREKLIK … FISIES?
Getroude paartjies maak so dikwels die fout om op te hou sê dat die ander een vir jou mooi is. Hy hoef nie noodwendig ’n six pack te hê om vir jou aantreklik te wees nie. Sê weer vir hom dat jy dink hy is sexy. Wees spesifiek in jou komplimente, maar wees opreg.

Bronne: www.redbookmag.com, www.goodhousekeeping.com, www.lhj.com •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *