Egskeiding | Deel 1 | Egskeiding en die Kinders

Egskeiding kan kinders se wêreld laat verkrummel en totaal in duie laat stort.
Probeer die seer makliker maak deur hulle tuis steeds geliefd, veilig en gelukkig te laat voel.

Daar word gesê dat egskeiding meer traumaties is as die dood aangesien egskeiding die gesin uitmekaar skeur en daar met die seer voortgegaan moet word, terwyl die dood finaal is en daarby bring die dood dikwels oorlewendes nader aan mekaar.
Ongeveer een derde van Suid Afrikaanse huwelike eindig in die skeihof. Maar dit hoef nie noodwendig ‘n ramp vir die kinders te wees nie. Hoe ons as ouers saamwerk, is die belangrikste faktor wat bepaal hoe goed hulle die traumatiese ervaring gaan baasraak.

Skei ter wille van die kinders?
Natuurlik is ‘n gesin waar ouers gelukkig saamlewe die beste vir kinders, maar soms werk dit nie so nie.
Waar een ouer fisiek of emosioneel geweldadig is of gedurig ontrou is of alkohol en/of dwelms misbruik is dit die beste om te skei.

‘n Ongelukkige huwelik kan jou as ouer so beïnvloed, aangesien dit jou selfvertroue ‘n knou gee, jou energie opeis en jou emosioneel aftakel.
Daarby veroorsaak al die argumente dat julle huis ‘n oorlogsone word.

Dit alles het tot gevolg dat julle nie regtig daar is vir die kinders, en dus ook nie hulle belange voorop stel nie.

Onthou – dit is net so sleg vir die kinders as julle skei en nie hulle belange eerste stel, as wat dit vir die kinders is om nie veilig, geliefd en belangrik te voel in ‘n ongelukkige huwelik nie.

Kinders se ervaring en reaksie op die nuus:
In meeste gevalle vermoed die kinders reeds lank dat hulle ouers se huwelik in die moeilikheid is.

Hoewel skoolgaande kinders oor die algemeen anders voel, meen baie volwassenes, hulle ouers moes eerder geskei het, as om “vir die ander se onthalwe” bymekaar te gebly het. Sommiges verwyt selfs hulle ouers dat hulle nie eerder hul liefdelose huwelik beëindig het nie.

Verskeie emosies agv die komende egskeiding kom na vore:
– Hartseer: want hulle moet magteloos toekyk hoe alles voor hulle oë in duie stort, terwyl hulle niks daaraan kan doen nie. Tydens die skeiding “verloor” hulle nie net ‘n geliefde ouer nie, maar daar is ook veranderinge soos met verhuising, hulle verloor hulle geliefde kamer, speelplek, troeteldiere, maats, vriende ens..
– Woede: aangesien hulle probeer om die skielike pyn en leegheid te verwerk deur te baklei met broers, susters, deur te wil wegloop van die huis en deur die ouer by wie hulle agterbly te beskuldig.
– Depressie: die gevoel van verskeie neerdrukkende en slegte emosies soos hartseer, die onbekende, moedeloosheid en magteloosheid kan depressie veroorsaak.
– Onsekerheid: Die kinders gaan vrae hê oor die toekoms. Hulle weet nie noodwendig hoe om situasies te hanteer en hoe om op almal se vrae en kommentaar te reageer nie. Hulle is geneig om te onttrek, of hulle raak so besig dat daar nie tyd is vir sosialisering nie.
Skuldgevoellens: afsku, verwerping, angs, vrees oorheers hulle gedagtes en gevoellens. Aanhoudende moegheid en hoofpyne kan voorkom, verlies aan eetlus, gewigsverlies, slaaploosheid en maagpyn kan voorkom agv ingehoue spanning.
– Verwerping: kinders voel maklik verwerp, veral waar ouers oor die kinders baklei. Praat met die kinders, stel hulle gerus en maak tyd om met die kinders te gesels.
Waar daar reeds ‘n nuwe persoon in ma of pa se lewe is is dit net soveel moeiliker. Hulle is bang hulle gaan ook eenkant toe gestoot word, bang dat daar nie nou meer plek in pa of ma se lewe vir hulle is nie.
– Probleem/rebelsegedrag: vir jong kinders is hul gedrag die enigste wyse waarop hulle van hartseer, woede, frustrasies ontslae kan raak bv. deur afknouerig te raak, ander seer te maak en “tantrums/vloermoere” te gooi.
– Konsentrasieprobleme: aangesien daar tuis soveel veranderinge plaasvind en die kind met sy eie gedagtes en emosies worstel, vind hulle dit moeilik om op hul skoolwerk te konsentreer.
– Aanvaarding: wanneer die kind die proses verwerk het en ‘n nuwe roetine gevestig het, kan hulle begin om die egskeiding te aanvaar. Hoe lank dit gaan neem is moelik om te sê, elke kind ervaar egskeiding verskillend.

Julie Retief •

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *