Dalk is dit moeilik vir mense wat hulle hele lewe lank in die mooie Mosselbaai-kusomgewing bly om te verstaan hoe die stadsjapies kan lieries raak oor die “tropiese paradys”.
Oppad Eb & Flow toe, net voor jy die Wildernis ingaan, ontmoet en betower die mooiste see-uitsig jou en die nimmereindigende breek en rol van die branders laat jou met heimweë terugdink aan ‘n magdom wonderlike tye en ……. nie sulke wonderlike tye nie.
Vir die eerste keer verstaan ek hoekom mense so graag dink en wil glo daar gaan nie veel aan by die see nie.
Natuurlik is dit nie waar nie, wat wel waar is, is dat daar minder van alles is.
Minder verkeer, minder gejaag, minder stres, minder besoedeling, minder mense, minder groot besighede, minder geld en minder geleenthede….maar, meer omgee, meer wetstoepassing, beter bestuur, meer glimlaggies en meer tyd vir “praatjies maak ”.
Die voordeel – dienslewering is uitstekend (al kla mense onophoudelik). Ek wil glo – bestuur en hoe werkers behandel word bepaal die resultate.
Waar kan jy in die stad by ‘n Bank, Polisie kantoor of by die Munisipaliteit se kantore instap, vriendelik gegroet word en oor die algemeen weer binne ‘n halfuur uit wees?
Glo my na meer as 30 jaar in die stad was ek selde, indien ooit, so gelukkig om sulke diens te ervaar.
Ek kan nie help om te dink, arm is die van ons wat hier bly, maar die goeie en die mooi nie meer raaksien nie … of noem ‘n mens dit net “pure bederf ?”