Ons wil almal graag hê, dat dinge maklik moet wees en sonder veel moeite moet gebeur.
Almal en alles plaas klem op gemak deesdae.
Tegnologie – deur die druk van ‘n knoppie gaan ‘n nuwe wêreld voor jou oop, en kan jy toegang hê tot ‘n magdom inligting of kontak maak met mense aan die ander kant van die grootte wêreld …. jy kan hulle selfs sien ! So is dit met die media, kits deurry-restaurante, deur tot deur aflewerings, medikasie, kitsbanke, om maar net ‘n paar voorbeelde te noem.
Vooruitgang met alles wat “kits” is, is wonderlik, so opwindend en tog so gerieflik.
Maar… dit kom met ‘n prys en dis net daar wat jy in die slaggat trap !!
Dis aanloklik en almal om jou het een, so ek wil nie agterbly nie. Wat doen ons, ons trek die bankkaarte nader en koop…dikwels op skuld. Ook skelms skroom nie om hulle kans te waag deur tegnologie te omseil nie.
Hoeveel jongmense weet nog van kosmaak? Dis mos net te maklik om by ‘n deurry- of wegneemete restaurant vinnig iets te koop of te laat aflewer. Maar wat is dan lekkerder as ‘n bord “home cooking”?
Selfone, ag tog so gerieflik, maar o wee….
‘n Tyd gelede sit ek in ‘n “deftige” restaurant langs ‘n tafel met ses persone.
Van die ses sit slegs een man, hoog en droog, duidelik uiters geirriteerd, en toekyk hoe al vyf sy maters sonder ophou besig is op/met hul selfone. En ek wonder …. Het hulle dan regtig niks vir mekaar te sê nie ? Buitendien sou ‘n mens hulle optrede nie as uiters ongepoets kon beskou nie – en dit van duidelik “deftig geklede, heel moontlik geleerde” jongmense, wat ‘n mens sou dink, iets van etiket en goeie maniere behoort te weet.
Ek meen, goeie maniere raak mos nie uit die mode nie, of wat praat ek alles?